DAG 127 - VRYLATING! GOD IS GETROU!



Iewers in die nag droom ek. Ek droom dat God met my praat. Dat God vir my sê ek gaan vrygelaat word. Dat ek teruggaan na my eie land, my eie mense toe en dat ek ander wat in nood is, moet gaan help.

Ek maak Callie wakker nog voordat die eerste sonlig deur die oerwoud kan breek. Opgewonde vertel ek hom van my droom. Callie is verstom oor my transformasie van gister na vandag. Ek vat my laaste bladsy papier en gaan lê in my hangmat. Ek gebruik dit om vir my suster, Roni, ’n besigheidsplan vir die liefdadigheidsorganisasies wat ek gaan begin te skryf. Roni is ook my besigheidsvenoot. Ek
vertel vir haar dat ons gaan begin met ’n liefdadigheidsorganisasie en verduidelik alles wat ons gaan doen aan haar. Teen 11:00 die oggend, klim ek tevrede uit my hangmat.
“Ek kan nou maar vrygelaat word. Nou weet ek hoekom ek hier moes wees,” sê ek met ’n rustige hart vir Callie.
Vier ure later is ek vry ...
Dit gebeur so onverwags dat ons nie eens reageer toe ons die nuus kry nie. Ek is besig om skottelgoed te was toe die boodskappers instap.
“Ons is hier vir die vier vroue en een man. Hulle word vrygelaat.” Dit is so onwerklik dat ek en Marie hulle ignoreer en voortgaan met ons taak. 
“Julle het vyf minute om te pak en te groet.”
“Monique!” hoor ek Callie roep. “Kom, kom, jy gaan!” Skielik sink die woorde in. Ek gaan vrygelaat word. Ek wil bly word, maar dan besef ek Callie se naam is nie genoem nie. Ek hardloop na Callie toe.
“Ek gaan nie sonder jou nie!”
“Kom Monique, jy gaan uit!” Dit is Robot wat hier langs my lag.
“Ek gaan nie sonder Callie nie,” steek ek vas.
“O, hy kom môre.” Ek glo nie Robot se woorde nie. Te veel leuens. Daar is ’n man met ’n kamera langs Callie. Ek gryp hom aan sy arm en wys na Robot.
“Sê dit vir die kamera,” beveel ek Robot. Hy lag heerlik as hy sy sin in die kamera herhaal. Callie druk my ryssak in my hand.
Callie druk  my teen hom vas en soen my saggies teen my voorkop. Dan is ons in die voetpad – ek, Marie, Sonia, Marise en Werner. 
Die jong rebelle staan teen die walle en skree: “Tot siens, Monique!” Ek ignoreer hulle.
Ons word agter in ’n klein bakkie ingeboender. Daar is rebelle wat op die dak sit, hul gewere reg om ons te beskerm teen enige van die ander groepe wat ons wil ontvoer. Ons jaag deur die modderpaaie van die oerwoud. In ’n stadium sit die bakkievas en ons vroue moet dit uitstoot. Waar ons die krag vandaan kry, weet ek nie!
Dan jaag ons by die buitenste kamp van die rebelle verby. Hulle hardlooplangs die bakkie en slaan teen die kante. Nou is ons op die hoofweg, wat ’n stukkende sementpad is. Die bakkie kom skielik tot ’n stilstand en die rebelle klim af. Robot sê nie ’n woord nie. So skielik soos hy gekom het, so skielik is hy weg.
By een van die boodskappers wat by ons bly, vind ons uit ons is in die niemandsland. Dit is die gevaarlikste deel van die vrylating, want nou is daar niemand wat ons kan beskerm nie, vertel een van hulle vir ons. Gelukkig weet ons van beter!
Die bakkies jaag voort en as hulle weer stop, word ons oorval deur duisende helder flitse. Dit is die pers. Ons is vry! Ons word in ’n klein kamertjie ingeboender terwyl ons vir die helikopters wag. Daar is ’n badkamer en vir die eerste keer in maande kan ons ’n regte toilet gebruik. Net om agter te kom dat daar geen toiletpapier is nie.
Die helikopter met ons drie vroue styg op toe dit skemer raak. Vir die eerste keer kan ons sien hoe lyk die plek wat vier maande lank vir ons hel was. ’n Pragtige eiland met berge, bedek met groen oerwoud en duisende palmbome. Dit lyk so vredevol en rustig.
As ons oor die see vlieg, begin die son hier langs ons sak. ’n Groot vrede vul my en ek draai om na Sonia wat langs my sit. Die enigste woorde wat ek kan uitkry, is: “Daar is werklik ’n God!”
In die skemer land ons in Zambongoa. Ek is verskrik as ek uitklim en die massas mense sien wat op ons afstorm. Ek wens skielik dat ek terug is by Callie in die oerwoud. Wat gaan ek sonder hom maak?
Dan sien ek skielik die Afrika-vrou met haar Afrika-klere. Sy storm op my af en vou haar arms om my, druk my teen haar vas en sê: “My child, we are going home.” Ek ontdek eers later dat dit Lindiwe Mabuza, die Suid-Afrikaanse Hoë Kommissaris in Maleisië is.
Terwyl sy my vashou, kyk ek op en sien ek ’n Indiërman ver agter die massas. Ek sien sy groot, wit glimlag en sonder dat ek hom ooit ontmoet het, weet ek dit is Dayanand Naidoo. Ek brand om hom te ontmoet, maar die mense hou ons uitmekaar. Uiteindelik steek ek my hand uit en hy syne en ons vingers haak inmekaar. Ons staan so tot hy by my kan kom en ek uiteindelik die man kan groet wat so ’n belangrike deel van ons lewens geword het – ’n engel in die verte!

DAG 127 – GOD IS GETROU!
PSALM 127:1-3, 5
As die Here nie die huis bou nie,
swoeg dié wat daaraan bou, tevergeefs.
As die Here nie stad beskerm nie,
werk dié wat dit beskerm, tevergeefs.
Tevergeefs sal julle vroeg opstaan
en laat gaan slaap om met moeite ’n bestaan te maak.
Vir dié wat Hy liefhet, gee die Here dit in hulle slaap.
Seuns is geskenke van die Here,
kinders word deur Hom gegee.
Sulke mense het niks te vrees
as hulle met die vyand in the stadspoort onderhandel nie.

Comments

Popular posts from this blog

Dag 119 - Die opdrag

Dag 28, 32 - Vlug!