Dag 85 - Om die maan te skiet...

Die dag begin en eindig met oorverdowende geweergevuur. Die daaglikse pret van die rebelle is om vroegoggend langs ons hut te kom staan en dan in die lug in te skiet. Dit is bitter sleg om so uit jou slaap geruk te word vir ons wat nog aan bomskok ly ná die die militêre aanvalle. Die skok op ons gesigte en die verskrikte rondval om weg te kom laat hulle in histeriese lagbuie verval. Ons hoor dat die leiers nuwe wapens gekoop het en dit uittoets. Ons hoor dat die laaste Maleisiese gyselaars in geheimhouding vrygelaat is, maar ons glo nie meer al die stories wat hulle ons vertel nie. Na sonsondergang is ons almal in die hut besig om reg te maak vir die nag, toe daar ewe skielik ’n geweldige skietery reg langs die kamp uitbreek. Ons vlieg almal vreesbevange orent. Dit kan net ’n militêre aanval wees. Die skietery brei uit na die ander kampe toe en vinnig klink dit soos ’n oorlog! Ons reageer almal op verskillende maniere. Stèphane duik onder die houtplatfor...