Dag 84 - Nuwe hoop!

















Gedurende die laaste twee dae gebeur daar baie wat ons geweldig hoopvol en opgewonde maak. Ons hoor dat die onderhandelaars naby die kamp met die rebelle-leiers vergader het. Eergister het ons ’n besoek van drie van die Maleisiese gyselaars gekry. Hulle het aan ons bevestig dat Zul (Zulkarnian Hashim) vrygelaat is. Gister se brief van ons taakspan is ongelooflik positief. Hulle vertel vir ons van die nagte wat hulle deurgewerk het om alles in plek te kry en dat dit net ’n kwessie van tyd is.

Die eerste nuus vanoggend kom van Aida, die Filipynse gyselaar. Sy vertel ons dat nog ’n Maleisiër vrygelaat is en dat nog drie mense vrygelaat gaan word. Ons is almal vrolik. Ek skerts met Stèphane en sê ons gaan vrygelaat word as hy sy hart vir die Here gee!

Ons besluit om ons goed reg te kry vir ingeval ons vrygelaat word. Ons kry weer briewe en my sussie Roni skryf van ’n vrou (wat blykbaar met die helm gebore is) wat vir haar gesê het ons vrylating sal vinnig kom en dat ons baie vrede sal hê. Ek besef dit beteken nie noodwendig “vrylating” soos wat ons dink nie, maar dat dit ook “vrylating” van hierdie huidige lewe kan beteken! Dalk gaan ons
sterf ... Tog pla dit my nie eintlik nie.

Ek bid: “God, ons hoop is op U en ons berus by U besluit. Ek het gesê dit sal ’n oorwinning wees as die Christene eerste hier uitstap, maar as U ons hier wil hou, dan berus ons by U besluit.”

Die dag kom vinnig tot ’n einde sonder dat iets gebeur. Die Duitse gyselaar huil bitterlik as sy besef dat niemand huis toe gaan nie. Dalk was haar verwagting net te groot. Vir my maak dit nie saak dat niemand vandag vrygelaat is nie, my vreugde het ek vandag in God se liefde gevind!

PSALM 84:3, 6-7
Ek versmag van verlange na die tempel van die Here;
met alles wat ek is, wil ek jubel oor die lewende God.
Dit gaan goed met mense wat hulle krag in U vind ...
Keer op keer ontvang hulle nuwe krag ...

Comments

Popular posts from this blog

Dag 119 - Die opdrag

Dag 28, 32 - Vlug!