Proloog

In die jare ná ons vier maande gyselaarhel, wonder ons gedurig oor die kompleksiteit van ons gevangenskap. Dit was ’n tyd waarin baie magte, mense en nasies die gyselaarsituasie elk met sy eie motiewe en doelwitte betree het. Een van die Suid-Afrikaanse taakspanlede het eendag opgemerk dat, as ons geweet het wat werklik agter die skerms aangegaan het, ons sou besef dat dit ’n wonderwerk is dat al die gyselaars vrygelaat is sonder dat een dood is. Hoe meer ons begin delf en die drade probeer losmaak het, besef ons net een waarheid: Dat daar, ten spyte van ál die agendas en planne van honderde mense en groot nasies, slegs Een is wat werklik in beheer was van die chaos waarin ons ons bevind het. Een wat ’n majestieuse plan gehad het. Een wat die kragte en swakhede van individue en nasies gebruik het om Sy plan te voltooi. Daardie Een is ons lewende God wat besig is met ewigheidsroepinge. Die storie agter die storie lees soos ’n verhaal vol intrige en aksie. ’n Plan wat sy onsta...