Dag 85 - Om die maan te skiet...

























Die dag begin en eindig met oorverdowende geweergevuur. Die daaglikse pret van die rebelle is om vroegoggend langs ons hut te kom staan en dan in die lug in te skiet. Dit is bitter sleg om so uit jou slaap geruk te word vir ons wat nog aan bomskok ly ná die die militêre aanvalle. Die skok op ons gesigte en die verskrikte rondval om weg te kom laat hulle in histeriese lagbuie verval.

Ons hoor dat die leiers nuwe wapens gekoop het en dit uittoets. Ons hoor dat die laaste Maleisiese gyselaars in geheimhouding vrygelaat is, maar ons glo nie meer al die stories wat hulle ons vertel nie.

Na sonsondergang is ons almal in die hut besig om reg te maak vir die nag, toe daar ewe skielik ’n geweldige skietery reg langs die kamp uitbreek. Ons vlieg almal vreesbevange orent. Dit kan net ’n militêre aanval wees. Die skietery brei uit na die ander kampe toe en vinnig klink dit soos ’n oorlog!

Ons reageer almal op verskillende maniere. Stèphane duik onder die houtplatform van die hut in en skree despraat vir Sonia om hom te volg. Ek gryp my reënstewels en in my haas kan ek hulle nie aan my voete kry nie. Renate val plat op die vloer en gaan onmiddellik aan die ruk van die skok. Marc is die enigste een wat kophou en probeer uitvind wat aangaan. Hy kom met ’n verligte uitdrukking op sy gesig terug by die kamp aan.

“Julle sal dit nie glo nie. Dit is ’n maansverduistering. Hulle skiet na die maan.” Ons staar hom almal verstom aan. Veel later, as alles weer rustig is, vertel hy vir ons dat hulle geweldig bygelowig is en glo dat onheil op pad is as daar iets voor die maan is. Hulle is so onopgevoed dat hulle nie weet wat ’n maansverduistering is nie! Hulle probeer dus dit wat voor die maan is, wegskiet.

As ek later op die grond in ons hut lê, besef ek nogmaals hoe groot God se genade is dat ons in hierdie totale onkunde en waansin nog lewe. Waar dit vir die rebelle ’n teken van onheil was, was die helder oranje maan met die vreemde skadu weereens vir my ’n teken van redding.

PSALM 85:10-12
Waarlik, uitkoms is naby vir dié wat Hom dien ...
Liefde en trou sal mekaar ontmoet, geregtigheid en
vrede sal mekaar omhels;
trou sal uit die aarde opspruit,
geregtigheid sal uit die hemel uit afkom.

Comments

Popular posts from this blog

Dag 119 - Die opdrag

Dag 28, 32 - Vlug!