Dag 115 - Nuus oor 'n vrylating

















Ons is baie opgewonde. Een van die rebelle wat Engels kan praat, bevestig nuusberigte dat ’n vliegtuig van Libië in Manila geland het om die gyselaars Tripoli toe te vat. Dit beteken die vrylating is naby. Hy sê ook dat die onderhandelaars vandag gaan terugkom om die finale reëlings te tref.

Dit oggend raak net beter toe ’n rebel instap met ’n onverwagse brief vir Sonia. Dit kom van haar pa af en hy vertel dat ons die tweede maand vrygelaat sou word. Iets het voorgeval, maar dit is nie meer lank nie. Almal is vrolik en ’n gevoel van verwagting begin oorneem.

Dan stap daar twee deftig aangetrekte Filippynse vroue by die kamp in. Hulle kom van die goewerneur van die eiland se kantoor af. Hulle kan Engels praat en bevestig dat die vrylatings naby is. In die afgelope maande wat ons hier is, het ons al soveel keer deur die opgewondenheid en dan die teleurstelling gegaan, maar vir die eerste keer lyk dit asof dit ’n werklikheid is.

Binne oomblikke word al ons drome en hoop egter platgeslaan. Een van die rebelle kom by die kamp ingehardloop en sê vinnig iets vir die twee vroue. Ek hoor die woord “weermag” en hul skielike angs bevestig dat ek reg gehoor het. Hulle gryp inderhaas hul handsakke en terwyl hulle haastig by die kamp uitloop, vra ek: “Wat gaan aan?”
“Pak jul belangrikste goed en wees reg,” antwoord een voordat hulle hul by die kamp uithaas. Reg waarvoor?

Ons sien dat die rebelle inderhaas hul besittings bymekaarskraap met dieselfde benoudheid as wat ons voor elke militêre aanval gesien het. Ons laat nie op ons wag nie. Vergete is al die uitsien na ’n vrylating, nou gaan dit oor oorlewing. As die weermag naby is, kan dit net een ding beteken – die onderhandelings is verby; daar het niks van gekom nie. Dit is klaar met ons!

Ons ruk al ons besittings uit wat ons in die ryssakke gepak het. Besittings wat ons met ons vrylating wou saamneem. Ek staan met ons pak briewe in die hand. Briewe van ons geliefdes, van ons president, van vreemdelinge – dit wat my aan die gang gehou het.
“Ons kan dit nie vat nie, Monique. Jy moet dit los!” sê Callie dringend. Ek wil sommer begin skree. Ek kan dit nie los nie! Maar ek besef hy is reg en sit dit saggies onder Renate se draagbaar neer.

Ek merk op wat die verskil is tussen dit wat jy vir ’n vrylating pak en dit wat jy pak as jy weet jy gaan vir jou lewe hardloop. Wég die briewe, ín die tandeborsels. Wég die bamboes-kershouers
wat Marc vir ons gemaak het, ín die beker. Wég die Suid-Afrikaanse vlag wat aan ons kant van die hut gehang het, ín die reënseil. Ek druk ons Bybel ook in die sak. Nou ons enigste hoop en redding.

Sonia begin onbedaarlik huil en in ’n waansinnige oomblik sê Werner dat hy vrygelaat gaan word. Hy begin die klere aantrek wat Renate vir hom gelos het vir sy vrylating. Niemand sê niks nie. Ons fokus is nou om reg te wees as ons moet begin hardloop.

’n Uur later kom ’n rebel weer by die kamp ingeloop. Dit was ’n vals alarm, die weermag is nie op pad nie! Ons laat ons sakke net so staan. Die adrenalien wat deur ons lywe gepomp het, maak ons nou doodmoeg. Callie gaan lê in sy hangmat sonder om iets te sê. Ek gaan lê op die grondseil en besef dit is nog nie eens middag nie.

Vroegmiddag kom daar ’n rebel ingeloop met ’n brief van Ken, ons Maleisiese duikleier. Hy skryf vir ons dat Robot hom op sy satellietfoon laat bel het en dat hy met Dayanand kon praat! Dié het vir hom gesê dat die onderhandelings op die laaste is. Ons weet nie meer wat om te glo nie. Al wat ons weet is dat ons lewens in God se hande is.


PSALM 115:11
... vertrou op die Here! Hy help en beskerm julle.

Comments

Popular posts from this blog

Dag 119 - Die opdrag

Dag 28, 32 - Vlug!