Posts

Showing posts from May 2, 2020

Dag 9 - In die poorte van die dood

Image
Ek raak bewus van die reuk nog voordat ek my oë oopmaak. ’n Siek, vrot reuk wat die hele hut vol hang. Dit is nog baie vroeg. Die ander gyselaars begin net-net beweeg. Ek stap by die hut uit, tot buite die stoep. Hier is die reuk baie sterker. Ek kyk om my rond en binne sekondes sien ek ’n paar dinge raak en my brein begin dit onmiddellik analiseer. Dit waarby ek uitkom, maak my skielik beangs. Ek sien dat die rebelle die seile waaronder hulle slaap van die bome afgehaal het. Ek sien ook hulle rugsakke is gepak. Ek sien hulle sit in klein groepies, gewere in die hand – paraat. Ek sien die leiers is weg. Dis egter die uitdrukkings op hul gesigte, die emosie in hul wyd gesperde oë wat my laat besef dat iets drasties verkeerd is. Hul oë is vol vrees! Ek besef skielik dit is wat ek ruik – die reuk van vrees. As mense bang is, begin hulle sweet, en dit is daardie sweetreuk wat in die lug hang. Die vrot sweetreuk van vrees wat in die oerwoud se dak vasgevang is. Ek besef hulle ver