Dag 9 - In die poorte van die dood


Ek raak bewus van die reuk nog voordat ek my oë oopmaak. ’n Siek, vrot reuk wat die hele hut vol hang. Dit is nog baie vroeg. Die ander gyselaars begin net-net beweeg. Ek stap by die hut uit, tot buite die stoep. Hier is die reuk baie sterker. Ek kyk om my rond en binne sekondes sien ek ’n paar dinge raak en my brein begin dit onmiddellik analiseer. Dit waarby ek uitkom, maak my skielik beangs.

Ek sien dat die rebelle die seile waaronder hulle slaap van die bome afgehaal het. Ek sien ook hulle rugsakke is gepak. Ek sien hulle sit in klein groepies, gewere in die hand – paraat. Ek sien die leiers is weg. Dis egter die uitdrukkings op hul gesigte, die emosie in hul wyd gesperde oë wat my laat besef dat iets drasties verkeerd is.

Hul oë is vol vrees! Ek besef skielik dit is wat ek ruik – die reuk van vrees. As mense bang is, begin hulle sweet, en dit is daardie sweetreuk wat in die lug hang. Die vrot sweetreuk van vrees wat in die oerwoud se dak vasgevang is.

Ek besef hulle verwag dat iets gaan gebeur en dat hulle niks vir ons sê nie. Ek hardloop terug by die hut in.
”Callie,” sê ek, skielik net so beangs. “Ons moet pak, ons moet regmaak, iets gaan gebeur.” My woorde so vinnig, so deurmekaar, dat Callie amper nie verstaan nie, maar die angs in my stem spreek dit wat my woorde faal om te sê. Ek begin vinnig die bietjie besittings wat ons het, bymekaar maak. Dit bestaan uit een plastiese bord en beker, een ekstra langbroek en spaar- T-hemp wat ons tussen die twee van ons roteer. Ons een tandeborsel, wat ons eers op die vyfde dag gekry het. So min ons aardse besittings, maar tog goud werd as jy dit nie het nie! Ek draai dit alles in die ou laken toe wat ons op die boot gekry het.

Half onwillig, ongelowig oor die kans dat iets verkeerd kan gaan, begin die ander gyselaars hul goed ook bymekaarskraap en in stukke sakke toebind. Ons praat nie veel nie, maar ons deel dieselfde gedagte – die weermag. Dit kan net die weermag wees.

“Uit! Uit!” Die rebel se opdrag ruk ons almal tot aksie. Ek en Callie is die eerste twee uit die hut en op die stoep. Die rebelle het nou almal opgespring en skarrel verward rond. Ek sien nog geen leiers nie en dit lyk nie asof iemand weet wat aangaan nie. Ons weet nie wat om te doen nie.

“Terug, terug!” Dié keer is dit ’n ander rebel. Ek besef wat aan die gang is. Die leiers is nog nie terug nie en die rebelle weet nie wat om te doen nie. Hulle weet iets gaan gebeur, maar hulle weet nie of hulle moet hardloop of bly nie! Nie een van die gyselaars praat teë nie. Die dun bamboesmure van die hut bied in hierdie stadium meer beskerming as die oopte van die stoep. Ek en Callie is die laaste twee wat buite is. Net voor ek by die deur van die hut instap, raak ek bewus van ’n rebel wat by die regterkant van die kamp ingehardloop kom en soos ’n mal mens skree.

En dan, voordat ons enigiets kan doen, bars die hel los. Daar word op ons geskiet deur ’n onsigbare vyand! Die rebelle het net een antwoord – hulle skiet terug! Binne sekondes bevind ons ons in die middel van ’n volskaalse oorlog.

Callie gryp my aan die arm en ruk my saam met hom van die twee meter hoë stoep af. Ons val plat in die modder. Oorweldig deur die geweldige klanke van honderde skote wat oral om my afgaan, begin ek grawe. Probeer ek om myself in die donker modder van Jolo-eiland te laat verdwyn. Ek veg ’n verlore stryd. Dit voel eerder asof ek ’n teiken is met rooi sirkels wat op my geverf is. Ek wag vir die koeëls om my te tref. Skielik besef ek dat ons die enigste twee is wat by die hut uitgekom het.

“Callie!” skreeu ek bo die koeëlreën uit. “Die ander is nog in die hut!” Dank die Vader ons is uit, maar wat van Marie, wat van Aida, wat van Marc, wat van al die ander wat saam met ons is?

“Op! Op! Staan op!” Dis soos ’n skimstem wat uit die mis van die oorlog chaos na ons roep. Ons kyk om. Dit is een van die rebelle. Hy staan verskrik agter ons en beduie woes: “Op! Kom!” Ek besef die man wil hê ons moet agter hom aanhardloop. Tussen die koeëls deur!

Callie besef dis ons kans om weg te kom. Hy gryp my aan my arm en pluk my op. Ek word ’n robot wat deur ’n afstandskontrole beheer word. My bene, my arms, my gedagtes is nie meer myne nie. Ons hardloop agter die rebel aan wat soos ’n verskrikte haas van die een kant na die ander kant swenk. Van die eenkant van die kamp na die ander kant. Weg! Weg! Ons wil wegkom! Niks maak
meer sin nie!

Dit is die stank wat my terugbring na die werklikheid. Ek lê saam met Callie plat op die grond, agter die stam van ’n palmboom. Die reuk is oorweldigend. Ek voel iets sags deur my vingers sypel, kyk af en besef wat die reuk is. Ons het platgeval in die “nasionale park”, soos die gyselaars dit gedoop het. Die toiletarea. Dit is iemand se ontlasting waarin ek my hand neergesit het!

“Hardloop!” kom die opdrag weer en ek vergeet van die my hand wat vol vrot goed sit. So hardloop ons van die een kant van die kamp na die ander. Ek hoor hoe die koeëls by ons verbykom. “Zwieng, zwieng, zwieng,” sing hulle soos hulle deur die lug trek. Ek sien hoe die blare voor ons ontplof as die
koeëls deur hulle sny.

Skielik is dit doodstil. Al die klanke om my verdof. Dan voel dit of ek begin sweef. Binne-in ’n borrel. Ek sien die chaos buite die borrel. Ek sien hoe Callie en die rebel voor my uithardloop. Ek sien mense wat opspring en platval. Ek voel hoe die koeëls van my borrel af wegspat en leweloos in die modder val. Dis ’n warboel van arms en bene, blare en takke, trane en snot ... Net ek is nie deel daarvan nie.

Stadig maar seker word die weermag uit die kamp uitgedwing. Word die skote minder totdat dit sporadies in die verte verdwyn. Die rebelle hergroepeer vinnig. Uit die gesprekke en met gebroke vertalings deur die Maleisiese gyselaars hoor ons egter die slegte nuus. Ons is nie buite gevaar nie. Ons is totaal omsingel en die leiers gaan nou spanne uitstuur om te gaan soek vir ’n plek om deur die
kordon te breek.

Ons staan nog verdwaas oor die nuus, emosioneel te moeg om te dink, toe die volgende aanslag begin. Ek hoor die geluid, maar weet nie mooi wat gebeur nie. Dit is Callie, wat twee jaar diensplig gedoen het, wat die geluid herken.
“Hardloop!” skree hy en gryp my aan die hand terwyl hy weg van die geluid af begin hardloop. Die rebelle en gyselaars spat in alle rigtings. Dit is ’n mortier! Die weermag is besig om op ons te skiet met mortiere! Hoe red jy mense as jy hulle vaskeer en met mortiere skiet?

 Die mortier is besig om ons in te haal. Ek kan dit hoor aankom. Dit fluit en dit word harder en harder en harder. Ons hardloop so vinnig as wat ons moeë en lam bene kan, maar Callie besef ons gaan nie wegkom nie. Hy gryp my en gooi my teen die grond en val dan bo-op my. Ek probeer onder sy bors inkruip sodat ek nie die gefluit kan hoor nie.

Dan is die mortier daar. Dit ontplof met ’n donderende slag iewers naby ons. Ek kan nie meer nie! Ek wil nie meer nie! Die vrees is so oorweldigend dat dit my asem wegvat. Dit voel asof my kop gaan ontplof, ek kan nie meer onderskei tussen die donderslae van my hart en die harde ontploffings van die mortiere nie. “Ek is so bang, Here, ek is so bang!” Callie se arms is styf om my geklem.

“Callie, ek wil nie doodgaan nie!” skree ek my vrees uit. Callie druk my stywer teen sy bors vas.
“Monique, jy moet vrede maak. Ons kan vandag doodgaan ...” Nee, ek wil dit nie hoor nie! Ek wil nie doodgaan nie!

My vrees neem die laaste van my menswees weg. Ek is nie meer nie. Ek bevind my in ’n kamer met baie mure. Teen die mure speel swart en wit prentjies, soos ’n ou film. Ek probeer sien wat dit is, maar dit gebeur te vinnig. Dan herken ek van die prentjies. Dit is ek, dit is my pa! Dit is Windhoek, dit is my lewe! Dit is my lewe wat voor my afspeel. Ek is besig om dood te gaan – ek sien my lewe, dit wat reeds was. Daar is niks vir wat voorlê nie ...

Dan stop my fliek. Dit stop by ’n kleurfoto. Dit is ’n foto van my ma. Daardie foto wat deur my oë “geneem” is die dag wat ons Maleisië toe vertrek het. Die gebeure van daardie dag is skielik duidelik in my geheue. Ons was laat vir ons vlug omdat die reisagent laat was met ons kaartjies. Nadat ons die kaartjies opgetel het, moes ons na my ouers se huis toe jaag wat ’n halfuur ver was, hulle optel en lughawe toe jaag wat nog ’n halfuur se ry was. Ons sou gelukkig wees as ons die vliegtuig betyds gaan maak, so laat was ons!

Ek onthou die rit lughawe toe. Callie wat teen 160 kilometer per uur op
die hoofweg jaag – in sy een hand sy selfoon waarmee hy nog besig is om ’n besigheidstransaksie van miljoene rande te doen en met die ander probeer hy terselfdertyd ratte oorsit én die stuurwiel vashou. Langs hom my pa, ’n voormalige kolonel in die weermag, hoogs ontsteld oor die ongeorganiseerheid van sy twee kinders. Agter langs my, my ma, wat baie gespanne aan die sitplekgordel vashou. Sy glo vas ons gaan ’n ongeluk maak. Langs haar sit ek hoogs omgekrap met Callie omdat hy nou nog moet werk en geen begrip het vir die feit dat ons ons vlug gaan
mis nie!

Daar is nie tyd vir die laaste kuier wat ons beplan het op die lughawe nie. Callie trek met ’n spoed by die aflaaizone in, maar maak geen aanstaltes om klaar te maak met sy foonoproep, wat nog te sê van sy vlug haal nie.
“Callie, ons moet gaan. Ons gaan die vliegtuig mis!” Hy ignoreer my. My pa staan al by die bestuurskant reg om die motor oor te neem en Callie praat nog steeds besigheid. Ek verloor my humeur totaal en al.
“Wel, ek gaan! Jy kan maar jou vlug mis!” Ek gooi ons duiksak en rugsak op die trollie en begin hardloop na die ingang van die lughawe. Woedend oor ’n paar dinge!

Terwyl ek so hardloop, sê iets vir my dat ek moet omkyk en ek doen dit sommer so in die hardloop. Dalk moet ek seker maak Callie kom. Maar nee, ek sien nie vir Callie of my pa nie, hulle is aan die anderkant van die kar. Ek sien net my ma. My ma wat my agterna staar. Dit is die uitdrukking op my ma se gesig wat my skielik laat stop, laat snak na my asem, my hart laat ruk. My ma staan en kyk
na my met die hartseerste uitdrukking op haar gesig. Dit is so hartseer, dat ek ewe skielik ’n geweldige knop in my keel kry en die trane wil-wil kom.
“Ag nee, Monique, jy is mos nou sommer simpel,” probeer ek die onheilsgevoel wegpraat, wetende dat ek maar altyd ’n bietjie hartseer is as ek iewers heen weggaan. Met daardie verskoning dwing ek die emosie uit my hart, draai ek om en hardloop ek na my vliegtuig toe.

Dit is daardie foto wat ek sien terwyl ek op Jolo in die modder lê, met die mortiere wat om my ontplof. Dit is daardie foto van my ma wat my met die ongelooflikste, hartseerste uitdrukking op haar gesig agternastaar.

In daardie oomblik besef ek wat gebeur het. Ek besef hoekom sy so na my gekyk het. Ek besef hoe verkeerd ek was. Ek besef die skade wat ek gedoen het. Ek besef dat, omdat ek so haastig was, omdat ek so kwaad was vir Callie, omdat ek te bang was ek gaan my vlug mis, ek nooit my ma of my pa gegroet het nie. Dat ek nie vir twee van die mense vir wie ek die liefste in die wêreld is, tot siens gesê het nie. Dat my humeur, my selfsug, my eie ek, gemaak het dat ek hulle nie gegroet het nie. Ek besef dat Callie reg is, dat ek dalk gaan doodgaan en dat ek nie vrede het nie. Nie vrede het nie omdat ek hulle nie gegroet het nie!

aardie oomblikke van besef kan ek nie beskryf nie. Die verlies ’n diep skeur waar emosie teen kante uit-eggo. Die pyn so groot dat ek dit nie in woorde kan vaslê nie. Die wete dat dit dalk nou verby is en dat ek nooit ’n kans gaan kry om daardie hartseer van my ma se gesig af te neem nie. Dat ek dalk nooit weer ’n kans sal kry om te se “ek is jammer” nie. Of: “Ek is lief vir julle.” Dat dit
dalk vir altyd verby is.

Iewers in die chaos van verlore kanse, van tot siens, van ’n siel wat doodgaan, van ’n wêreld wat radikaal verander, begin ’n gedagte weerklink. Weerklink en weerklink, todat dit die beelde, die emosies en die wêreld laat verdwyn in ’n sug van totale oorgawe. Die woorde spreek helder tot my: “Jy moet vrede maak, Monique. Ons kan vandag doodgaan.” Vrede. Dít wat jy kry as jy besef dat niks meer in jou hande is nie. Dat niks wat jy doen, ’n verskil gaan maak nie. Dat dit nie gaan verander wat nou met jou gaan gebeur nie. As jy besef dat jou lewe nie werklik joune is nie. Dat jy aan God behoort, dat jou lewe en alles wat jy is aan God behoort. Dat as ’n koeël jou vandag moet tref en jou lewe neem, dit God se plan is. Jy die klei en Hy die pottebakker. Vrede. Totale oorgawe van jou aan God.

Ek kyk skielik op en my oë vang dié van ’n jong rebel en sy maat wat oorkant my lê. Ek sien die vrees in hul oë. Is dit hoe ek ook lyk? Dit moet wees, ons is immers in dieselfde bootjie. Dan besef ek dat dit nie sin maak nie. Hulle veg vir ’n doel, ek leef vir ’n doel. My en hulle doel is nie dieselfde nie. Inteendeel, dit verskil wêrelde van mekaar.

’n Groot hartseer vul my. ’n Groot jammerte vir die jong mense wat veg vir dit waarin hulle glo, maar besef dat dit wat hulle glo nie reg is nie, wanneer hulle die dood in die oë staar. Dit kan nie anders wees as daar soveel vrees is nie! Hoekom vrees ek dan? Hoekom lê ek hier verlam van vrees? Ek weet mos wat ek glo. Ek weet dat daar vir my hoop is. Dat daar ’n lewe na hierdie een is. ’n Baie beter een, gevul met liefde en aanvaarding en ewige vreugde. My God is groot, ek hoef geen mens te vrees nie!
“God, my lewe is in U hande,” en met daardie woorde vind ek my vrede. Op daardie oomblik verdwyn my pyn oor my lewe wat dalk verby is, my hartseer oor verlore kanse en alle vrees oor die hede. Dit is asof my hart lig word. Asof die wêreld en sy laste van my afgelig word. Asof God my optel en my laat uitstyg bo wie ek gedink het ek is en dit waarin ek geglo het. En ek word omring deur ’n liefde wat geen einde ken nie, ’n liefde wat alles moontlik maak, ’n liefde waar ek vir die eerste keer tuisvoel.

Die wêreld om my lyk skielik anders. Ek sien die mooi van die oerwoud, die groen blare, die helderblou lug wat loer-loer deur die takke. Ek sien die klein wit blommetjies langs my in die gras. Ek sien die rebelle wat langs my lê en aanvaar hulle en wat hulle aan my gedoen het in liefde. Ek is reg om na my Vader toe te gaan ...

Maar dit is nie in God se plan dat enigeen van ons moet sterf nie. Nee, Hy ruk ons terug uit die poorte van die dood soos Psalm 9 sê!

Daardie aanval duur tot 17:00 daardie middag. Toe dit begin skemer word, laat vaar die weermag die aanval. Wanneer die eerste donkerte toesak, word ons beveel om op te staan en reg te maak om te beweeg. Ons vind uit die leiers kon wel deur die kordon breek en het ’n ontsnappingsroete gevind.
Ons begin stap. In ’n lang, enkelry. Geruisloos, want ons is vreesbevange dat die weermag ons gaan hoor. Ons stap tot diep in die nag. Ons verander in robotte. Ons hou op dink. Ons hou op voel. Een voet voor die ander strompel ons deur die donker.

Skielik word my verdoofde sintuie bewus van ’n helder lig. ‘Kersfees,’ is die eerste gedagte wat deur my moeë brein gaan. Die lig kom van ’n Kersboom vol duisende liggies. Ek soek die vrolike Kersgesang, maar al wat ek hoor, is hortende asems. Dan besef ek waar ons is. Ons is op ’n eiland, in die hande van terroriste. Waar kom Kersfees dan vandaan? Die lang slang van mense stop. Ek is nie
die enigste wat dit raaksien nie. Almal staan doodstil en kyk.

“Dis vuurvliegies,” fluister Callie. Hy is reg! Die hele boom is oortrek met duisende vuurvliegies. Wat ’n ongelooflike mooi gesig. Ek dink meteens terug aan my familie by die huis. My sussie Roni wat altyd die kersboom so mooi opmaak. Die bymekaarkom op Kersdag. Die lekker saam eet en kuier. Die uitdeel van geskenke. Tye wat ek seker nooit weer gaan hê nie. Tog bring die herinnering nie hartseer nie. Dit bring berusting en vrede, ’n bevestiging dat God ook hier op dié eiland wat so gevul is met haat, Sy plekkie het. Dat Hy op so ’n ongewone manier Sy stempel laat. Hierdie ongelooflike gesig wat vir ons die berusting bring dat ons nie in totale wanhoop is nie.

PSALM 9:4, 10, 14
Toe U verskyn het, het my vyande gevlug ...
Vir die mens wat in gevaar verkeer, is die Here ’n toevlug ...
... U wat my terugruk uit die poorte van die dood.

Comments

Popular posts from this blog

Dag 119 - Die opdrag

Dag 28, 32 - Vlug!