Dag 118 - Ons wag op die man van die Noorde...

Dit is nou dag 118. Ons is moedeloos verby. Elke keer as ons dink dit kan nie slegter gaan nie, gaan dit net nog slegter.

Die afgelope paar dae is ons deur ongelooflike hoogtepunte en laagtepunte. Ons het nie meer ’n idee wat aangaan met die onderhandelings nie. Ons hoor verskriklike verwarrende nuus. Dit help nie ons gemoedstoestand nie. Ek wil nie meer dink aan vrylating nie. Ons het werklik nie meer antwoorde op ons vrae nie. En dit lyk of niemand daar buite antwoorde het op ons vrae nie.

Vir weke lank sien ons nou al uit na die aankoms van dr. Azzarouk, die man wat ons hier sal kom uithaal. Ons opgewondendheid was na aanleiding van ’n brief van Dayanand Naidoo wat op Dag 76 by ons uitgekom het. Dit is weer een van sy baie lang briewe, maar hierdie keer ’n baie positiewe, opgewonde brief.

Hy vertel ons van die Libiese onderhandelaars, dr. Azzarouq en Mohamed Ismael, wat nou volstoom toegetree het, en dat baie verwikkelinge plaasgevind het sedert sy vorige brief. Dan gee hy vir ons die grootste nuus van die afgelope paar maande – dat ons hopelik vry gaan wees binne twee tot drie weke vandat dr. Azzarouq die onderhandelings “oorgeneem” het. Vir die eerste keer vandat ons gevange geneem is, het ons ’n datum wat ons kan vertrou, want ons weet dat Dayanand nie net iets sal sê om ons beter te laat voel of vals hoop te bring nie. Ons Suid-Afrikaanse taakspan het juis ’n punt daarvan gemaak om geen voorspellings te maak oor ons vrylating nie.

In daardie oomblik, in ons menslike swakheid, het ons na die grashalm gegryp en ons hoop op dr. Azzarouq gesit. Nou is dit al Dag 118 en hy is nog nie hier nie! Ek krap weer Dayanand se brief onder my ryssak uit, lees dit deur en wonder wat verkeerd gegaan het. Ek lees ook weer ons dagboekinskrywing van Dag 76. Hoe opgewonde was ons nie oor die nuus nie. Ek lees verder en is verstom om te sien hoe baie dae ons gedagtes by dr. Azzarouk was! Hoe ons al ons hoop op hom gesit het.


Callie se dagboek (oor die wag op die Man van die Noorde)
DAG 78
Ons is moedeloos gewag vir dr. Azzarouk. MIskien is ons net te hoopvol.

DAG 82
Ons hoor dat dr. Azzarouk Vrydag hiernatoe kom om te onderhandel. Al verwag ons nie aksie nie, is dit ’n stap in die regte rigting.

DAG 83
’n Brief van Dayanand. Hy sê die hele span is baie positief. Hy sê ook vir ons as ons “Die man van die Noorde” (ons kodenaam vir dr. Azzarouq) by die kamp sien inloop, moet ons weet ons is vry. Ons deel die nuus opgewonde met die ander gyselaars. Ons kan nie wag om die Libiërs te ontvang nie!

DAG 89
Robot kom vertel vir ons dat hy en Aventejado gepraat het en ooreengekom het om die vroue Maandag vry te laat! Alhoewel dit goeie nuus is, weet ons nie of ons hom moet glo nie. Volgens ons
inligting is dr. Azzarouk die persoon wat alles dryf, nie Aventejado nie.

DAG 90
Weer ’n brief van ons span. Hulle vertel ons van drie moontlike roetes vir vrylating wat nou ondersoek word – Aventjado, die groep wat werk vir die Maleisiërs en dr. Azzarouk. Hulle verwag dat Azzarouk binnekort by ons gaan uitkom en glo dit is ons beste kans om uit te kom. Ons bid en vertrou dat die Here sal voorsien.

DAG 93
Die vroue is nie vandag vrygelaat soos wat Robot voorspel het nie. Dit laat ons maar net weer glo dat Azzarouq ons beste kans is.

DAG 94
Ons word weer wakker gemaak deur ’n skietery binne die kamp. Die rebelle lag hulle dood as hulle sien hoe ons almal verskrik regop sit. Monique skryf al haar frustrasies uit in ’n brief wat een van die rebelle beloof het om uit te vat. Sy vra wat van dr. Azzarouq geword het. Dit is nou amper 20 dae vandat ons die brief van ons taakspan gekry het. Asalles volgens hulle voorspelling verloop het, dan moes ons al uit gewees het! Gelukkig hoor ons nog gereeld dat dr. Azzarouq se naam deur die rebelle genoem word. Dit beteken dat hy nog besig is. Dit beteken dat hy ons nog hier kan uitkry. Ons moet net aanhou glo dat hy gaan kom.

DAG 106
Vandag is ons hoop weer hoog, danksy ’n brief van Dayanand. Hy vertel ons dat hy self bedags vir ons vrylating vas en dat hy op ’n hongerstaking gaan as ons nie uit is teen die 15de nie. Daar is ook nuus dat Azzarouk in Jolo is. Ons is weer baie opgewonde!

DAG 113
Niemand weet wat aangaan nie. Dit lyk asof daar chaos is met die onderhandelings. Die nuuste sêding oor ons vrylating is: “Net God weet wanneer hulle gaan uitkom!” Ons is moedeloos. Waar is dr. Azzarouq?!

DAG 118
Ons wonder steeds waar Azzarouk is.

Dit is Callie se eerste dagboek inskrywing van Dag 118. Ek wonder ook hoe lank nog? Ek maak die dagboek toe en lê vir lank in my hangmat met my oë toe. Lewensmoeg. Later kom Callie by my sit. Hy het die
Bybel in sy hand.
“Ek het nou net Psalm 118 klaar gelees.” Ek stel nie belang in sy praatjies nie. Om eerlik te wees, stel ek ook nie belang daarin om die Psalm te lees nie.
“Hoor jy wat ek sê?”
“Nee. Ek wil nie hoor nie. Ek is moeg.” Hy skud sy kop.
“Dit is omdat jy alweer die dagboek gelees het. Wat pla jou nou weer?” vra hy.
“Ek wonder maar net wat geword het van dr. Azzarouk,” sê ek met ’n sug.
“Wel – dis hoekom jy eerder die Bybel moet lees. Luister wat staan hier in vandag se vers. Jy moet by God skuil en nie jou vertroue op mense sit nie. Op ‘hoë mense’ sê dit!” Hy kyk met verwagting na my. “Sien jy nie – ons het ons hoop op dr. Azzarouk gesit – nie op God nie. Dit is hoekom ons nog hier sit!”
Ek skud net my kop. Ek dink dat dit so ’n maklike manier is wat Callie nou gevind het om vrede te maak met die feit dat Azzarouk nog nie hier is nie en dat ons nog nie uit is nie.
“Monique, ons moet net op God vertrou. Ons moet by God gaan skuil. Mense gaan ons nie help nie. Dit is net God wat ons kan help!”
Ek weet Callie is reg. God het tog vir ons heel aan die begin gesê Hy gaan ons beskerm en red. In ’n oomblik van swakheid gebruik Satan my desperaatheid na vryheid om my oë van God af te haal.*


*Die situasie het so gevaarlik geword as gevolg van ander groepe wat die gyselaars wou ontvoer en ander lande wat die onderhandelings wou stop, dat dr. Azzarouk nie weer na die kamp van die gyselaars toe kon gaan nie. Ek sien hom die eerste keer in die militêre basis onmiddellik na my vrylating.


PSALM 118:8-9
Om by die Here te skuil, is beter as om op mense te vertrou.
Om by die Here te skuil, is beter as om op hoë mense te vertrou.

Comments

Popular posts from this blog

Dag 119 - Die opdrag

Dag 28, 32 - Vlug!