Dag 121 - Geen vrylating...



Sonia kry ’n baie ontstellende brief van haar pa af. Almal het verwag dat die vroue Saterdag vrygelaat sou word. Almal het in Zamboanga gewag.

Ons word egter meer ontstel deur die volgende nuus: ’n Engelssprekende rebel kom by die kamp ingehardloop met die nuus dat die Abu Sayyaf elf Taiwanese vissermanne gevang het. Die weermag het gewaarsku dat hulle die rebelle gaan aanval as die onderhandelings nie tot ’n punt kom nie. Ons glo dat hulle dit sal doen. 

Hy sê ook dat die Libiërs dreig om uit die onderhandelings te onttrek. Ons weet nie wat aangaan nie, maar dinge lyk weer sleg vir ons. 

Ek en Callie besluit om op ’n eetstaking te gaan. Ons het genoeg gehad.*

PSALM 121:1-2
Ek kyk op na die berge:
Waarvandaan sal my hulp kom?
My hulp kom van die Here wat hemel en aarde gemaak het.



*Die Libiese onderhandelaars ontdek dat die vrylating gestop is deur ’n brief van Kommandeur Robot waarin hy sê dat hy die gyselaars aan Aventejado sal oorhandig, nie die Libiërs nie. Dit wil voorkom asof Aventejado hom beïnvloed het om die brief te skryf en die eer van die ontsetting vir hom te vat. Die Libiese onderhandelaars stel onmiddellik ’n ultimatum aan Robot en die Filipynse regering – die gyselaars word óf binne 48 uur vrygelaat óf hulle onttrek. Die onderhandelings bereik ’n breekpunt.



Comments

Popular posts from this blog

Dag 119 - Die opdrag

Dag 9 - In die poorte van die dood