Vlug en aangeval (Dae 11, 13 en 14)




DAG 11 - VLUG

PSALM 11:1-2
Ek skuil by die Here. Hoe durf julle vir my sê:
“Vlug na die berge toe soos ’n voël!
Kyk, die goddeloses span hulle boë,
en hulle lê aan met die pyl op die snaar;
hulle staan reg om uit die donker die opregtes van hart te tref.”

Ons hardloop nou al twee dae lank om weg te kom van die weermag af. Ons is moeg, dors, honger en sonder hoop. Ons kan nie meer nie. Ons is mense sonder ’n wil, sonder ’n gees, sonder gevoel, sonder ’n voortuitsig. Ons kom by ’n klein riviertjie en kan vir die eerste keer in dae weer drink en bad. Dan moet ons weer hardloop, want die weermag is al weer naby. Teen skemer klim ons gly-gly teen ’n steil moddervoetpad, hoog teen ’n kop, uit. Daar word kamp opgeslaan teen die kop. Ons is vol modder. Dit begin reën. Ek en Callie word gedwing om op piesangblare onder Mujib se hangmat te gaan slaap. Dit is al hoe ons kan ontsnap van die reën. Opgekrul in mekaar se arms, weet ons egter waar ons skuiling werklik lê.



DAG 13 – “BREAK IT DOWN”

PSALM 13:2-3
Hoe lank gaan U my nog bly vergeet, Here? Vir altyd?
Hoe lank moet ek nog my eie planne maak
en my dae met kommer deurbring?
Hoe lank sal die vyand my nog oorheers?

Uit Callie se dagboek
Ons sien ’n rebel met ’n T-hemp wat sê: “Break it down.” Ek kan nie help om
te dink dis wat hulle met ons probeer doen nie. Een kom met die nuus dat
Marie Moarbes se pa in Manila is en op haar vrylating wag. Dit is te veel vir
Marie, sy is gebroke en huil vreeslik. Later kom ’n sogenaamde dokter by ons
uit (ons vind later uit hy is ’n verpleër). Marie stuur ’n boodskap saam met
hom: “Ons het nie water nie. Ons het nie kos nie. Ons het niks nie. Laat weet
my pa dat ons OK is!”


DAG 14 – WEER ’N AANVAL

PSALM 16:8-10
Ek het die Here altyd by my:
omdat Hy by my is, sal ek nie struikel nie.
Daarom is ek bly en juig ek en voel ek my veilig.
U gee my nie oor aan die dood nie.
U laat u troue dienaar nie in die graf kom nie.

Die eerste tekens van die naderende weermag is toe die rebelle inderhaas hul goed begin oppak. Selfs die reuse, ryspot met die halfgekookte rys se deksel word styf toegedraai en ’n stok deur die handvatsel gedruk. Niemand sê iets vir ons nie, maar ons sien hoe ’n groep rebelle vinnig hul wapens gryp en by die kamp uitbeweeg. Dié wat oorbly, kom skuil in die bosse agter ons slaapplek. Skielik
besef ons dat hulle ons as ’n skild gebruik. Ons gryp vinnig ons yl besittings. Die mans maak ’n draagbaar van twee dik bamboestakke en ’n seil en sit die Duitse vrou, Renate, daarin.

Daar is beweging by die ingang van die kamp. Ons sien ’n televisiekamera. Miskien is dit tog nie die weermag nie, dalk is al die beweging oor die aankoms van die TV-span. Voordat hulle egter by ons kan kom, bars die eerste skote los. Dit is ’n entjie weg van die kamp, maar onmiddellik is daar chaos. Almal hardloop, skree en soek dekking. Hulle beweeg ons agter ’n bos groot bome in. Dit is hier
waar die kameraspan ook skuiling soek. Die kameraman sien die geleentheid en begin onmiddellik verfilm terwyl hy ons vertel wat aangaan.

“Die president het belowe dat die weermag nie naby julle sal kom of julle sal probeer red nie. Hulle is eintlik opdrag gegee om julle te red of ontslae te raak van die probleem.” Sy woorde bevestig wat ons vermoed het. Dit is nie goeie nuus nie. Die mense wat ons eintlik moet beskerm, wil ons uitwis. Daar is niemand wat ons kan help nie!

“As ons die video kan uitkry, kan ons vir die wêreld wys wat aangaan.” Terwyl die gevegte al hoe nader kom, doen ons ’n wilde onderhoud. Werner vra dat die Internasionale Islamitiese Organisasie ons moet kom help. Marie verduidelik dat Renate dringend mediese hulp moet kry.

“Hoe gaan dit met ons ouers?” is al wat ek kan uitkry voor ons moet koes vir die koeëls wat om ons klap. Die geveg is nou baie naby en hulle beweeg ons uit in die oopte na ’n ingevalle bunker. Hier koek ons vreesbevange opmekaar terwyl die son genadeloos op ons neerbak. Die geveg is nou reg rondom ons. Die klapgeluide van gewere maak ons doof, die vrees maak ons koud en die son verbrand ons.

“Klim uit! Klim uit!” Ons volgende skuiling is weer die digte oerwoud. Nou begin ons hardloop. Die mansgyselaars sukkel met die draagbaar waarin Renate lê teen die gladde rivierwalle af. Die twee sakke wat ek dra, anker my in die grond. Dit voel asof ek nie kan wegkom van die harde slae om my nie.

Later is Callie langs my. Ons beweeg te stadig en die rebelle dra nou vir Renate. Die geveg bly om ons, volg ons soos ’n honger leeu.

“Val plat!” skree die rebelle op die flanke. Ons val onmiddellik plat. Nou kruip ons. Ons het vinnig geleer as iemand skree “plat”, val jy onmiddellik plat. Jy hardloop nie na die naaste boom of verskansing toe nie. In daardie tyd kan ’n koeël jou tref. Jy val plat en kruip dan na die skuiling toe.
Die geveg hou uiteindelik op. Maar die weermag is nog agter ons. Dit word ’n wegkruiperspeletjie. Hardloop, platval en kruip, stil lê, geen geluid, sagte huil, wanhoop, vrees, hoop ...

Teen 17:00 die middag stop ons uiteindelik. Ons is so moeg dat ons almal net in ’n hoop platval. Daar is nie kos nie, maar ten minste kan ons rus. Net toe ons almal ons vreesbevange harte getem het en ons oë begin toeval, kom die bevel weer: “Op! Op! Gaan!”

Nou is ons zombies. Regtervoet, linkervoet. Dit word nag, ons kan nie sien nie. Ons struikel deur donker rivierwater. Teen berge uit. Marie stort ineen. Sy kan nie meer nie. Daar is geen genade nie!

“Op! Jy moet loop!” Uiteindelik gryp Stèphane haar en gooi haar oor sy breë skouers. Vrees gee krag.
Teen 03:00 die volgende oggend stop die konvooi in ’n oop gebied in die oerwoud. Ons is honger, ons is doodmoeg, ons voete jeuk in die natuurlike modderskoene, ons stink die stank van vrot, sweterige vrees.

Dit begin reën. Een van die gyselaars haal ’n klein seiltjie uit. Ons skarrel daaronder in soos nat
rotte. Daar is nie genoeg plek nie, ons bene steek uit, maar ten minste is ons lywe droog.

Met die eerste sonsopkoms begin ons weer beweeg. Ons dink nie meer nie, ons voel nie meer nie, ons gee nie meer om nie. Dit is elkeen vir homself. Elkeen met sy eie vrese dat sy liggaam dit nie gaan maak nie, dat sy gees dit nie sal kan hou nie.

Ek dink as ons op daardie oomblik geweet het hoe baie dae van honger, vrees en hardloop nog vir ons voorgelê het, het ons dalk net daar plat op die grond gaan sit en gewag vir die dood om ons in te haal.


Comments

Post a Comment

Popular posts from this blog

Dag 119 - Die opdrag

Dag 28, 32 - Vlug!