Proloog






In die jare ná ons vier maande gyselaarhel, wonder ons gedurig oor die kompleksiteit van ons gevangenskap. Dit was ’n tyd waarin baie magte, mense en nasies die gyselaarsituasie elk met sy eie motiewe en doelwitte betree het. Een van die Suid-Afrikaanse taakspanlede het eendag opgemerk dat, as ons geweet het wat werklik agter die skerms aangegaan het, ons sou besef dat dit ’n wonderwerk is dat al die gyselaars vrygelaat is sonder dat een dood is.

Hoe meer ons begin delf en die drade probeer losmaak het, besef ons net een waarheid: Dat daar, ten spyte van ál die agendas en planne van honderde mense en groot nasies, slegs Een is wat werklik in beheer was van die chaos waarin ons ons bevind het. Een wat ’n majestieuse plan gehad het. Een wat die kragte en swakhede van individue en nasies gebruik het om Sy plan te voltooi. Daardie Een is ons lewende God wat besig is met ewigheidsroepinge.

Die storie agter die storie lees soos ’n verhaal vol intrige en aksie. ’n Plan wat sy onstaan gehad het in die donker wêreld van Islam-ekstremisme, waar ’n toe onbekende leier, Osama Bin Laden, ’n opdrag uitgestuur het na ’n terroristeselgroep in die Suid-Filippyne. ’n Klein maar wreedaardige groep, met leiers wat in Afganistan geveg het en opleiding gekry het in lande soos Rusland en Libië. Hulle voer ’n waaghalsige ontvoering uit, maar doen ’n paar dinge verkeerd. Hulle mis hul teiken en beland by die verkeerde vakansie-oord. In die chaos van die ontvoering bly die vier Amerikaanse toeriste, wat eintlik hul teiken was, op die eiland agter. Dit kompliseer dinge eerder as om dit te vereenvoudig.

Skielik het hulle niks meer óm te onderhandel nie en niks om vóór te onderhandel nie! Dit vat hulle weke voordat hulle nuwe eise identifiseer. In daardie weke verskyn daar skielik vreemde groepe mense wat soos aasvoëls op die kamp van die gyselaars toeslaan om te kan deel in die moontlikhede wat die situasie bied. Die seun van ’n bekende huursoldaat, wat ook ’n wapensmokkelaar is, maak
beloftes aan die vader van die Franse gyselaar. Die goewerneur van die eiland, wat die gebied self regeer met gewapende rampokkers, stel voor dat hy die beste een is om as onderhandelaar op te tree. Die Moslem-onderhandelaar wat deur die regering aangestel word, word na weke se onderhandeling deur die rebelle verwerp omdat hy ’n verraaier is.

Die weermag beweeg in en probeer die situasie op ’n aggressiewe manier ontset terwyl die taakspanne van die betrokke lande by die president van die Filippyne smeek om ’n vreedsame oplossing. Private besigheidsmense op soek na roem en erkenning beloof fondse vir losgeld en begin hul eie onderhandelings. Die nuwe amptelike Filippynse onderhandelaar, Roberto Avenjado, aangestel deur president Estrada, kom nie die mas op nie en sien elke plan en onderneming van die taakspanne as ’n bedreiging. Instussen ignoreer die Maleisiese taakspan alle instruksies van die “offisiële onderhandelaar” en begin direkte samesprekings met die rebelle.

Internasionale nuusspanne kom op die toneel aan en slaag daarin om tot by die gyselaars te kom. Dit word wêreldnuus. Skielik verhoog die profiel en die eise word meer en meer soos die weke aanstap. Die rebelle-leiers geniet die aandag van die media, maar besef ook watter magtige wapen dit is. Oor en oor stuur hulle hul ideologiese boodskappe na die wêreld toe.

Na keer op keer se onsuksesvolle onderhandelings en die toenemende desperaatheid van die families, begin die Europese lande na oplossings soek wat werkbaar is. Die verbintenis tussen Libië (waar baie van die leiers jare gelede opleiding ontvang het) en die rebelle-leiers bied ’n moontlike oplossing. Nou begin grootskaalse onderhandelings waarvan die uitkoms wêreldpolitiek kan verander.

’n Libiese onderhandelaar arriveer, tot groot onsteltenis van die Filippynse hoofonderhandelaar. Dit begin ’n tydperk van onderhandelings op verskeie vlakke; van tweespalt in die span van die offisiële onderhandelaars wat eindig in afkoelperiodes tot weke waarin geen onderhandelings plaasvind nie nie en mense wat dreig om die proses te los. Keer op keer is daar gefaalde vrylatings, waartydens ministers van verskeie lande regstaan om die gyselaars te ontvang – vrylatings wat vermoedelik gesabboteer is deur lede van die offisiële Filippynse onderhandelingspan. Gerugte van massiewe bedrae losprysgeld en die diefstal daarvan deur onderhandelaars en rebelle, dra alles by tot die totale krisis waarin die Sipadan-gyselaarsituasie verval.

Aan die onderpunt van al die dinge wat regoor die wêreld gebeur, sit 21 gyselaars. Doodgewone mense wat met vakansie was en nie gevra het om daar te wees nie. Doodgewone mense met ’n ma en ’n pa, ’n werk, ’n huis, ’n lewe op plekke ver weg van die vrot oerwoude van Jolo. Mense wie se lewens in daardie vier maande gekoppel word aan ’n wêreldse prys, mense vir wie daar in die hele
proses bitter min genade en begrip is. Pionne in ’n skaakspel waar dit om die mag van wêreldse koninkryke gaan.

Die enigste hoop vir die gyselaars lê nie by mense nie, maar by ’n magtige God wat lank voordat hierdie aksie begin het, klaar Sy planne in plek gehad het. Dit is hierdie magtige God Wie se lig in ’n helder, duidelike straal tot diep in die oerwoud skyn, tot op elk van die 21 gyselaars wat op Sy redding staatmaak.

Hoe wonderlik is dit dat Hy alle mense gebruik om Sy plan uit te voer – om Sy instrumente te wees. Vir ons word die Abu Sayyaf-groep, die leiers Robot en Mujib en die Christelike TV evangelisasiegroep, die Jesus Miracle Crusaders onder Vader Almeda, simbolies van die twee magte wat die stryd voer. Saam met hulle stry Libiese onderhandelaars, ekstremistiese terroristegroepe, biddende Christene en gelowiges vir die lewens van 21 mense. Hoog bo, onbetrokke maar in volle beheer, staan ’n magtige God wat besig is om Sy plan te orkestreer.

En so, sonder dat enige van ons dit weet, word ons almal instrumente van God. God raak individue aan. Hy mobiliseer duisende Christene om vir ons te bid. Die eerste woorde wat mense in die straat gewoonlik vir my sê as hulle my herken, is: “Jy sal nie weet hoe ons vir julle gebid het nie!”
Hy raak taakspanne aan. Hy raak regerings aan, Hy raak nasies aan in hierdie proses. Hy gebruik die sinister planne van die onderhandelaars teen hulle, die wraakgierigheid van die rebelle tot voordeel van Sy plan, die swakhede van ander tot voordeel van die beskermdes.

Hierdie boek is die storie oor ons vier maande as gyselaars. Dit is ’n storie van die onmoontlike wat moontlik word, van wonderwerke in ’n tyd waar daar geen hoop was nie. ’n Storie oor die vervulling van ’n groter plan. Alhoewel die boek oor ons tyd as gyselaars gaan, is dit nie óns storie nie – dit is God se storie.

Psalm 1:1-3
Dit gaan goed met die mens wat nie die raad van die goddeloses volg nie ...
Hy is soos ’n boom wat by waterstrome geplant is, wat op die regte
tyd vrugte dra en waarvan die blare nie verdroog nie.
Hy is voorspoedig in alles wat hy aanpak.

Comments

Popular posts from this blog

Dag 119 - Die opdrag

Dag 28, 32 - Vlug!