God se instrumente - Gebed























PSALM 22:22, 25, 31, 32
U het my gebed verhoor! Die nood van die hulpelose het Hy nie
verontagsaam en gering geskat nie, Hom daarvan nie teruggetrek
nie, maar die hulpgeroep na Hom het Hy gehoor. Die nageslag sal
Hom dien, en hulle sal van die Here vertel aan die volgende geslag.
Dié sal dan aan die volk wat nog gebore moet word van hierdie
verlossingsdaad getuig: die Here het dit gedoen.

Dit is ons 22ste dag in die hande van die rebelle. Dit voel soos ’n ewigheid. Ons moeë, uitgeteerde lywe en amper lewelose oë wys die swaarkry van die afgelope drie weke. As enigiemand vir my gesê het hierdie situasie lê vir my voor, sou my reaksie gewees het: “Ek sal dit nooit oorleef nie.” En hier sit ek, die hande van my man en ’n vriendin styf vasgeklem in myne, terwyl ons hardop tot God bid. Uitroep na Hom. Om ons te help, om ons te red, om ons te spaar – om ons nie te vergeet en te verlaat nie.

Die rebelle het nie ’n idee waarmee ons besig is nie. ’n Paar van hulle wys na Callie en maak aanmerkings – ons kan maar net raai wat hulle dink. Soos die aande aanstap, word dit ’n instelling. Elke aand, terwyl die liggies op die see aangaan en die vrugtevlermuise hul soeke na kos begin, begin ons ons soeke na antwoorde, na hulp, na redding.
“Ag Here, ek kan nie meer nie. Help ons, asseblief.”
“God, help tog dat die onderhandelings môre suksesvol gaan wees. Help dat ons môre vrygelaat gaan word.”
“Hemelse Vader, wanneer gaan U ons red? Hoekom loop alles net verkeerd?”

Aand na aand, gebed na gebed. Dieselfde vrae en versoeke oor en oor. Niks gebeur nie. Die onderhandelings vind nie plaas nie. Ons kry nie antwoorde nie. Ons word nie vrygelaat nie. Ons hou aan uitroep: “Help ons, God!”

Vanaand gebeur daar egter iets onverwags. Voordat ons kan begin, stop Callie ons.
“Weet julle, ek dink ons bid verkeerd.” Ek en Marie kyk verstom na Callie. Hoe kan ons verkeerd bid? Hoe duidelik kan ’n mens dan bid? Ons vra tog presies vir God wat ons wil hê – net redding, net vryheid! Wat meer moet ons nog bid?
“Miskien moet ons ophou om vir onsself te bid.” Ek kan sien ek en Marie
dink dieselfde. Ophou om vir onsself te bid? Wie gaan dan vir ons bid?
“Dalk moet ons vir iemand anders bid, wat slegter af is as ons.” Ek begin vir ’n oomblik dink die dehidrasie het Callie aangetas. Op hierdie oomblik kan ek aan niemand dink wat slegter af is as ons nie!
“Wat van die kinders in Basilan? Miskien moet ons vir hulle bid ...”

Liewe Here, vergewe my, dink ek met skaamte. Vergewe my dat ek vergeet het van die kinders in Basilan. Vergewe my dat ek so vasgevang was in my eie swaarkry dat ek nie besef het daar is ander wat nog swaarder kry as ek nie. Die inligting oor die Basilan-gyselaars is skaars en op hoorsê gegrond. Tussen die paar artikels wat ons in die ingesmokkelde koerante kon lees en die gesprekke tussen die rebelle (wat Aida vir ons vertaal) kon ons so min of meer hul verhaal aanmekaar sit.

’n Maand voor ons ontvoering val een van die Abu Sayyaf-groepe op Basilaneiland twee skole aan en ontvoer 24 kinders van tien tot veertien jaar tesame met hul onderwysers en ’n priester. Die Filippynse weermag het weereens besluit dat hulle eerder die gyselaars gaan probeer ontset as om met die rebelle te onderhandel. Dit het uitgeloop op ’n geweldige skietgeveg waarin vier van die kinders doodgeskiet is. Die rebelle slaag daarin om met hul gyselaars te vlug. Uit weerwraak vir die aanval deur die weermag besluit die leiers om die volwasse gyselaars dood te maak. Ons hoor gerugte van verkragting, marteling en onthoofding.

Ek praat jare later met ’n joernalis oor die gewetenloosheid van die rebelle. Hy vertel toe hoe die priester dae lank gemartel is, sy naels uitgetrek is, sy ore afgesny is en vir die onderhandelaars gestuur is. Hy sterf toe hy raakgeskiet word tydens ’n militêre aanval, want hy was aan ’n boom vasgebind en kon gevolglik nie ontsnap nie. Koeëls het deur sy liggaam gesny toe hy weerloos sy dood in die oë moes kyk. Die joernalis vertel hoe hy in die nuuskamer gesit en kyk het na die beeldmateriaal van die moord en so woedend was dat hy hulle die wreedaardigste dood toegewens het.

Vergewe my, God, dat ek net aan myself dink. Hierdie arme kinders se maats is voor hulle doodgeskiet en hul onderwysers voor hulle vermoor. Hulle is net klein kindertjies wat hulle in die hande van die gewetenlose mense bevind, sonder hul ouers, sonder enige hoop op onderhandeling, met ’n geringe kans op oorlewing. Callie is reg. Ons moet ophou om vir onsself te bid. Hulle het ons gebede baie meer nodig as wat ons dit self nodig het.

Ons vergeet van onsself. Ons bid vir die kinders van Basilan. Ons bid vir hul beskerming. Ons bid dat hulle versorg sal word. Ons bid vir hul redding. En op daardie oomblik begin die gebede werk, nie net vir die kinders van Basilan nie, maar ook vir ons.

Uittreksels uit Callie se dagboek
Dag 23
Ons hoor president Estrada kom na die Suid-Filippyne toe. Hy gaanhopelik met ons ambassadeurs vergader om oor ons situasie te praat.Ons kry ook besoek van twee Franse verslaggewers wat vir ons baienuus gee en ook briewe uitsmokkel.

Dag 24
Ons word geskuif na ’n huis laer in die vallei. Dis ’n groot verbeteringen die hoogtepunt is die rivier wat net om die draai is (so 30 minute se stap). Nog Franse verslaggewers arriveer. Hulle laat ons toe om hul statelietfoon te gebruik. Ek bel huis toe en praat met Sam. (Ek tjank!) Monique bel haar pa en sê: “Hallo Pa, dit is ek.” Hy antwoord: “Ek weet.” (Hy tjank ook). (Later) Ons kry sojasous wat vir die eerste keer
die rys na iets laat proe en twee klein vars sardientjies wat ons op die vuur gaarmaak.


Dag 25
Ons kry besoekers wat vir ons sê dat die onderhandelings begin het ...

’n Paar dae hierna begin die vrylating van die eerste kinders in Basilan. Teen die einde van Junie 2000 is almal vry.


Comments

Popular posts from this blog

Dag 119 - Die opdrag

Dag 28, 32 - Vlug!