Dag 91 - Psalm 91 Dreigende onthoofding en isolasie

























Nog ’n koerant word na ons toe ingesmokkel. Die nuus is nie goed nie. Daar is verskeie berigte oor die gyselaarsituasie. Ons hoor dat die laaste Maleisiërs nooit vrygelaat is nie. Tydens hul vrylating het hulle in die hande van ’n ander rebelleleier beland wat nou nuwe eise begin stel het. Dit is geweldige slegte nuus vir ons omdat ons vermoed het dat ons vrylating ná hul vrylating sal volg.

Verder is dit ’n dag van konflik tussen die rebelle-leiers oor die Jesus Miracle Crusaders. Een van die leiers wou summier van die sendelinge onthoof om te wys dat die rebelle ernstig is. Gelukkig is die situasie op die laaste oomblik ontlont.

Ons lees in die koerant oor die konflik tussen die hoofonderhandelaar, Robert Aventjado, en die Libiese onderhandelaars. Die rebelle vertel vir ons hoe Robert Aventjado die lughawe op die eiland gesluit het en alle bote na die eiland verbied het. Hy het dit gedoen toe hy hoor dat van die gyselaars vrygelaat gaan word en hy nie by die planne betrek is nie.

Later in die middag vertel ’n ander rebel vir ons dat die koerantnuus oud is en dat die Maleisiërs wel ’n dag later vrygelaat is. Ons weet nie meer wat om te glo nie; ons kan nou maar net hoop! Voor ek gaan slaap, lees ek die Psalm van die dag, Psalm 91, en ek bars in trane uit. Dit is ’n Psalm wat my ma aan my gestuur het in een van haar eerste briewe. Reeds toe het sy ’n belofte gekry dat ons beskerm sal word!


PSALM 91:2, 5, 7, 11-15
“U is my toevlug en my veilige vesting,
my God op wie ek vertrou.”
Jy hoef nie bang te wees vir gevaar in die nag
of vir aanvalle oordag ...
Al val daar duisende langs jou, tienduisende by jou,
vir jou sal niks tref nie.
Hy sal sy engele opdrag gee om jou te beskerm
waar jy ook al gaan.
Op hulle hande sal hulle jou dra,
sodat jy nie jou voet teen ’n klip sal stamp nie.
Jy sal oor leeus en adders loop,
leeus en slange sal jy dood trap.
“Omdat hy My liefhet, sal ek hom red,” sê die Here,
“omdat hy My ken, sal ek hom beskerm.”
“Wanneer hy My aanroep, sal Ek sy gebed verhoor;
in sy nood sal Ek by hom wees ...”

Comments

Popular posts from this blog

Dag 119 - Die opdrag

Dag 28, 32 - Vlug!