DAG 18 – DIE SONSONDERGANG-GROEPIE




PSALM 18:3, 47, 48
Die Here is my rots, my skuilplek en my redder, my God,
my rots, by wie ek skuil, my skild en sterk verlosser,
my veilige vesting.
Die Here leef!
Ek loof Hom wat my rots is.
Dit is God wat my die oorwinning gee ...

Dit is ons tweede nag by “Mountain View Lodge” soos Werner die kamp noem. Ons bevind ons hoog in die berge. Ek weet nie waar enige van ons gister die krag gekry het vir die laaste tog van vier ure teen die berg uit nie. Dalk was dit die belofte van kos, water, rus en ’n veilige kamp met wegkruipgate in die grond wat vir ons die aansporing was.

Toe ons uiteindelik daar kom, besef ons dat die rebelle weereens gelieg het. Daar is nie wegkruipplek nie nie, daar is nie kos nie, daar is nie water nie. Inteendeel, die enigste water wat ons kan kry, is om druppels water wat teen ’n rots in die paadjie afdrup, met ’n blaar te versamel.

Tog voel ons vir die eerste keer in dae weer veilig. Daar is geen manier wat die weermag ons nou kan bekruip nie. Die rebelle kan elke klein beweging in die oop vlaktes rondom ons raaksien.

Ek, Callie, Marie en Aida sit en wag vir die skemer om nader te kruip. Ons vind vrede in die vrugtevlermuise wat oor ons vlieg, die lig wat sagter word, die honderde liggies van die vissersbote wat ons op die see om ons sien. Beelde wat ’n hoop van vryheid bring.

Daar hoog bo die res van die wêreld vat ons hande, ons laat sak ons koppe en roep uit na ons Rots wat ons deur die afgelope weke beskerm het.

Comments

Popular posts from this blog

Dag 119 - Die opdrag

Dag 28, 32 - Vlug!