Dag 73 - Nuus van die huis!













Die dag begin op sy gewone slegte noot, met die gewone ingesmokkelde koerant. Die hoofnuus is dat die Jesus Miracle Crusaders se hoofleier en twaalf lede deur die Abu Sayyaf gevange geneem is toe hulle vir ons wou kom bid.

Die artikel vertel ook dat hulle vir ’n uur by ons was en dat dit sleg gaan met ons! Ons skud ons koppe in ongeloof. Niemand was by ons nie en dit is die eerste nuus wat ons kry van die groep wat gevang is. Ek kan net dink wat die nuus aan ons families gaan doen en raak sommer kwaad vir die pers wat alles so verdraai net om ’n storie te kry. Maar ons is dankbaar vir die evangeliste wat die rede is vir die Bybel wat ons gekry het!

Later in die dag is daar groot opgewondenheid as die twee leiers, Mujib en Robot, by die kamp aankom. Vir die eerste keer in weke het hulle vir ons pakkies en briewe van die huis af. Ons staan verstom as hulle ons pakkie oorhandig.

Dit is reusagtig groot, toegedraai in rooi papier met ’n wit blaartjiemotief daarop. (Ná ons vrylating vertel die Suid-Afrikaanse taakspan dat hulle die fasiliteite van die Kanadese ambassade gedeel het en dat dit offisiële Kanadese geskenkpapier is!)

Ons kry omtrent nie die pakkie oop nie, want daar is ’n rol maskeerband om gedraai plus nog ’n dik tou om gebind. Later vertel Daynand Naidoo (die Suid Afrikaanse spanleier), wat die pakkie gestuur het, dat hy besluit het hy sal seker maak dat die rebelle niks van ons steel nie. Vir die eerste keer in weke kry ons elkeen ’n stel skoon klere!

Die belangrikste van alles is die pak briewe van ons geliefdes. Die Suid-Afrikaanse taakspan in Manila het ook ’n brief geskryf. Ons hoor van hul beproewinge om dinge te laat gebeur. Ons lag en huil oor al die nuus.

Ek skryf onmiddellik ’n brief terug aan die taakspan waarin ek vir hulle sê dat ons vir hulle bid en dat ons ook hul veiligheid aan God toevertrou. Dit is wonderlik om te sien hoe die verskil in geloof en godsdienstige oortuiging nie meer saak maak nie as ’n mens dieselfde doel het en as almal besef dat net God hier sal kan help.

Wat ’n wonderlike God wat hierdie dinge om ons kan laat gebeur, al is ons so vol twyfel en het ons so min hoop!

PSALM 73:1-2, 16, 21-26, 28
God is vir Israel baie goed, vir dié wat rein van hart is.
Tog het ek daaraan begin twyfel,
ek het byna koers verloor ...
Daarom het ek diep nagedink om dit te verstaan
en was dit vir my bitter moeilik ...
Toe ek verbitter was en veronreg gevoel het,
was ek dom en sonder insig;
soos ’n redelose dier het ek my teenoor U gedra.
Tog was ek nog altyd by U, want U vat my aan die hand.
U lei my met u raad en aan die einde
sal U my in ere by U opneem.
Daar is niks in die hemel of op aarde
wat vir my meer beteken as U nie.
Al is ek afgetakel na liggaam en gees,
God is my sterkte; aan Hom behoort ek vir altyd.
... Ek sal van al u werke bly vertel.

Comments

Popular posts from this blog

Dag 119 - Die opdrag

Dag 28, 32 - Vlug!