Dag 6 - Die Suiderkruis




PSALM 6:3, 4, 7 ,8 ,10
Ontferm U oor my, Here, want ek kwyn weg,
maak my gesond, Here, want my liggaam is uitgeteer.
Ek is heeltemal gedaan ...
Ek is uitgeput van verdriet, ek huil die hele nag deur,
ek deurweek my bed met trane.
My oë het dof geword van verdriet,
verswak deur wat my teëstanders my aandoen.
... die Here het geluister na my smeking,
die Here het my gebed aangeneem.


Reeds vroeg in die dag merk ons die onrustigheid van die rebelle op. Die leiers is weg en almal dwaal half onrustig en doelloos in die kamp rond. Ons voel ook die verwagting en praat nie veel nie.

Teen skemer is die leiers nog nie terug nie. Vanaand bring die skemer egter geen rustigheid vir ons nie. Inteendeel, dit is asof die skemer die onrus wakker maak. Ons merk op dat daar nie vanaand so baie vure aangesteek word nie, dat die rebelle gedemp praat en dat niemand aanstaltes maak om rustig te raak nie. Verbeel ek my of is hulle heeltemal te woelig met hul rugsakke en gewere? Niemand praat met ons of vertel vir ons wat aangaan nie en die enigste opsie is om saam in te wurm in ons hut hoog bo die grond.

Maar vanaand is daar geen rebelle wat met hul lampe en tweerigtingradios om ons kom sit nie.
My maag kramp van die hongerte. Die een groot bord rys wat ons elke dag met mekaar moet deel, vul ’n baie klein kolletjie. Ons het lankal vrede gemaak met die feit dat daar niks sout in is nie, of dat dit sommige dae halfgaar en ander dae verbrand is. Ons is net te dankbaar vir die paar korrels rys.
Gister het Patrick, ’n Filippynse gyselaar wat voor ons ontvoer is, ’n sakkie sjokolade in my hand gestop. Ek is oortuig hy is ’n engel! Ek weet nie waar hy dit vandaan gekry het nie, maar sy woorde dat ek dit meer nodig het as hy, kon nie meer waar gewees het nie. Ek was so oorweldig oor die kosbare geskenk dat ek dit nie oor my hart kon kry om dit te eet nie.

Die rebelle se rusteloosheid beïnvloed ons ook met die gevolg dat ons nie aan die slaap kan raak nie. Werner, die Duitse man, vryf sy vrou, Renate, se rug. Sy lê vanaf gister in ’n bondeltjie opgerol, asof sy in ’n koma is. Ons vermoed dit is van totale dehidrasie. Die intense hitte en humiditeit van die oerwoud is besig om die Europeërs onder te kry. Selfs ons van Suid-Afrika, wat bekend is vir sonskyn, kry swaar. Om sake nog moeiliker te maak is water skaars. ’n Halwe koppie water per dag per gyselaar is oorvloed. Die rebelle het ’n verskoning: Die weermag het ’n kordon om ons getrek en hulle kan nie by die rivier uitkom nie. Ons verstaan dit nie as ons sien hoe vol water hul kanne is nie.

Teen die middel van die week bid ons vir water, en daardie middag word ons deur ’n donderbui getref. Dit kom so vinnig dat ons nie reg is daarvoor nie. Toe die eerste druppels hard begin neerval, besef ons dat ons niks het om die water in op te vang nie. Soos een man storm die gyselaars na buite, monde oop, arms na die hemele gelig – hulle probeer terselfdertyd drink en skoonword. Die rebelle
bars almal uit van die lag vir die vreemde spektakel en hul vreugde is amper aansteeklik; ons lag ook sommer!

So vinnig soos dit gekom het, is dit egter verby en die oerwoud verander in ’n vreemde wese, verskuil in die stoom wat oral uit die warm grond trek. Die reuk van die reën word verdring deur die stank van die toiletarea (’n bebosde area so vyf meter van ons hut af). Die skoonheid wat die reën gebring het, het verdwyn in stoom en dit word ’n duidelike bewusmaking van waar ons ons bevind.

Die gedempte geruis van gesprekke word skielik verbreek deur ’n paar kort bevele wat uitgeroep word.

“Die leiers is seker terug!” Ons is verlig. Hul teenwoordigheid bring vir ons gerusstelling, maar dit is van korte duur. Robot storm by die hut in met harde bevele.

“Op! Op! Ons moet gaan!” skree hy gedemp vir ons. Nie een van ons reageer nie, miskien omdat ons so moeg en honger is, of dalk omdat ons emosioneel so uitgeput is.

“Ons moet gaan. Die weermag is op pad!” Die woord ‘weermag’ laat ons onmiddellik reageer. Die hele week vertel die rebelle vir ons van die Filippynse weermag wat ons omsingel het en wat ons gaan aanval. Hulle vertel van ons regerings wat ingestem het tot die reddingsaksie. Ons glo hulle glad nie, deels omdat hulle ons probeer breinspoel met al hul gelowe en ook omdat ons nie kan
glo dat die weermag sal aanval nie; hulle sal ons eerder beskerm. Teen die einde van die week lyk dit asof die dreigement sterker word.

Eergister is Callie gedwing om bitter ver te loop en ’n radiostasie te bel om hulle bewus te maak van die feit dat die weermag beplan om ons aan te val.

Die bekommernis in Robot se stem en die angs in sy manne se oë ruk ons tot aksie. Vir die eerste keer glo ons wat die rebelle ons vertel. Ons vlieg soos een man op en maak dat ons onder op die grond kom. Daar word ons in ’n enkelrystaan gemaak. ’n Rebel tussen elke tweede gyselaar.

“Moenie praat nie. Loop saggies en as hulle skiet, moenie hardloop nie, val plat.” Ek is opeens geweldig beangs. Dit is nou ons werklikheid: Ons is moeg, ons is uitgehonger en daar is geen manier wat ons in hierdie toestand van die soldate af sal kan weghardloop nie. Daar is egter nie tyd om te dink nie, want die ‘ketting’ van mense begin beweeg.

“Gaan. Gou. Loop!” Ons strompel vreesbevange die donkerte van die oerwoud binne. Die ure wat ons deur die donkerte struikel, word vir my ’n ewigheid. Callie loop voor my, my hand styf in syne geklem, my nagblind-oë moeg gestaar om net voor my te kan sien. Ek val ’n hele paar keer, net om van agter gestamp te word deur ’n rebel. Dit is duidelik dat hulle nie ’n sekonde wil mors nie.

Dit voel asof die oerwoud bewus is van die dreigende gevaar. Dit is doodstil. Alles wat lewe, het in gate en krake gaan wegkruip. Dit is net die lang slang van menslike liggame wat saggies deur die oerwoud voortgly. Dit voel asof die tyd gaan stilstaan. Ons moeë liggame word robotte. Ons hou op dink. Ons hou op voel. Soos masjiene beweeg ons arms en bene, die lewe het lank terug opgehou.

Dan is ons skielik in ’n oopte. ’n Groot grasvlakte, helder verlig. Ons stop verbaas. Vergrote pupille wat sukkel met die onmiddellikheid van die helder lig. Waar kom dit vandaan?

“Kyk op,” fluister Callie. My oë volg syne en ek snak na my asem. Duisende, duisende, duisende sterre. Hulle lag, hulle speel, hulle wink. Ek sien die Melkweg verswelg in die glans van sy eie skoonheid.

“Kyk, daar is die Suiderkruis,” sê Callie terwyl hy na die horison wys. Ek sien onmiddellik waarna hy wys, maar my logiese redenasie weet dit kan nie wees nie. ’n Mens kan mos nie die Suiderkruis van hier af sien nie. Ons sien dit gewoonlik in die hemel bo Suid-Afrika. Maar daar is dit! Nie heeltemal soos ons dit ken nie. Inteendeel, dit lê op sy sy, maar ons kan duidelik die vier sterre uitmaak wat die vier punte van die kruis is.

Ek kyk na die bekende kruis en ek dink aan my huis, my familie, my land, my mense. Ek wil gaan platsit en uitbars in trane.

“Dink jy dit is die Suiderkruis?” vra Callie hier langs my. Ek skud my kop. Iewers, diep binne my begin ’n besef oorneem. Dit is verseker ’n kruis wat so helder skyn teen die donker hemel. Lank terug het ’n Man op ’n kruis vir my as sondige mens nuwe hoop gegee. Is hierdie kruis dalk vanaand hier om vir ons groepie vreesbevange gyselaars hoop te gee? Om vir ons te sê God is baie nader
as wat ons dink, as wat ons besef, as wat ons glo?

“Beweeg! Gaan!” Die oomblik is verby, maar die bevestiging is gelaat. My gedagtes bars uitmekaar toe ’n geweldige pyn deur my been skiet. Ek besef skielik ek lê op die grond. Ek het oor ’n rots in die pad geval. Callie probeer my orent trek, maar die pyn in my onderbeen is te erg. Die rebel stamp en praat dreigend van agter en Callie tel my onder die arms op. Ek kan nie op my voet trap nie en voel hoe die warm bloed teen my been afstroom.

Ongeveer ’n uur later kom ons by ’n hut aan wat versteek is in die lang grasse van die veld. Sonder ’n woord word ons daar ingeboender terwyl die rebelle-leiers en die rebelle verdwyn. Ek gaan lê doodmoeg teen Callie skouer, intens bewus van die geweldige brandpyn in my been. Ons is te moeg om tepraat. Emosioneel uitgemergel. Die vrees dwing ons kele toe. Ons lê almal teen mekaar sonder om ’n woord te sê.

Dit voel asof daar net vyf minute verby is toe die rebelle ons weer opjaag.Hulle raas aansienlik harder en ons kan agterkom dat iets hul bui moes veranderhet. Dit is asof die angstigheid wat hulle vergesel het, nou weg is.

“Op! Op! Kom!” Ons reageer nou al soos skape op die alombekende bevele. Sonder om te dink volg ons ons oppassers. Sonder om te wonder waarheen ons nou gaan of hoe lank ons nog gaan stap. Sonder om om te gee of ons vol modder word of stink na sweet. Onbewus van ons tonge wat aan ons
verhemeltes vaskleef van dors.

Ure later strompel ons ’n kamp binne. My doodsmoegheid maak dat ek niks herken nie. Ek sien hoe Marie op ’n klip neersak en hoor hoe sy hard begin huil. Haar kop in haar arms, onbeheersd, rou en seer. Dan sien ek waar ons is. Terug by ons ou kamp. Wat doen ons hier? Wat het vanaand gebeur?
Marie se rou snikke ruk my terug. Ek sien die spottende, laggende gesigte van die rebelle wat om haar staan terwyl sy totaal ontbloot voor hulle sit. Ek vou my arms om haar in ’n desperate poging om haar teen hulle smalende gesigte te beskerm.

“Hulle het dit gedoen om ons te breek,” snik sy. “Hulle het dit doelbewus gedoen. Hulle wil ons breek.”

Ek besef sy is só reg. Hul doel is om ons te breek. Die hele week het ons net een bord rys gekry wat ons tussen 21 mense moes deel. As ons ’n halwe koppie water per persoon per dag gekry het, was dit baie. Hulle het ons elke aand uit die slaap gehou deur ’n groep rebelle saam met ons in die hut te sit
wat hul radio’s aanhou en die hele nag praat. Hulle het ons die hele week lank uitgemergel en hierdie lang staptog was die laaste ding waarmee hulle ons wou breek.

Maar ten spyte van dit alles het ons vanaand hoop gesien in daardie kruisster wat so helder vir ons geskyn het. Het ons besef dat, te midde van al die donkerte wat ons omvou, God se liefde vir ons helder skyn en dat dit ons op koers gaan hou – ons oë net op Hom gerig.

Comments

Popular posts from this blog

Dag 119 - Die opdrag

Dag 28, 32 - Vlug!