Dag 69 AND 71- Chaos in die onderhandelings EN ons sien God in aksie in chaos

DAG 69 - CHAOS IN DIE ONDERHANDELINGE
Vandag word daar weer ’n koerant ingesmokkel na ons toe. Dit is ’n ou tannie van die dorpie wat dit waag om tot by die kamp te kom. Haar motivering – om die groot, swart reënstewels te kry die dag as ons vrygelaat word. Ons skud ons koppe vir die ou tannie wat haar lewe waag vir swart stewels. Ons is nou al dae afgesny van die buitewêreld. Geen pers meer nie, dus geen nuus meer nie. Die ou tannie is nou ons enigste hoop. Die koerantbring egter geen goeie nuus nie.

Daar is ’n artikel wat handel oor die rebelle wat nie tevrede is met enige van die onderhandelaars nie en nou weer vra om die Libiese onderhandelaars te sien. Ek lees ook dat die “afkoelperiode” 30 dae is en deur die onderhandelaars geëis is omdat hulle ontevrede met die rebelle is.

Ek is weereens platgeslaan. Dertig dae! Nog 30 dae in hierdie hel! Ek besef dat al my voorspellings en bespiegelings oor wat gaan gebeur, totaal verkeerd is. My hoop is verpletter. Ek gaan klim in my hangmat en weier om die res van die dag met enigiemand te praat. Ek is emosioneel so moeg. Ek kan nie meer nie. Ekwil nie meer nie. Ek gee nie meer om wat gebeur nie. Callie kom soek my toe dit
donker word en ek ignoreer hom.

Later begin dit reën en hy dra my uit die hangmat onder die seil van ons slaapplek in. Marie sien my totale moedeloosheid en sy begin soos ’n moeder vir my preek oor my plig as Christen. Dat ek nie mag ophou hoop nie. Dat ek moet ophou om te dink en te probeer sin maak van al die chaos om my. Dat ek net moet oorleef en dit is al. Die woorde val om my, ek hoor dit, maar dit gaan verby omdat ek nie meer wil hoor nie.

PSALM 69:2-4
Red my, o God, want die water het tot by my keel gekom.
Ek het weggesak in diep modder waarin ek nie kan staan nie.
Ek het in diep waters beland waarin die stroom my meegesleur het.
Ek het my moeg geroep om hulp, my keel is hees geroep ...


DAG 71 - GOD IN CHAOS
Dit is vandag tien weke vandat ons gevange geneem is. Niemand sê veel daaroor nie. En soos gewoonlik is dit nie lank voordat die daaglikse drama begin nie. Dié keer hoor ons ’n geskree buite die kamp en skote wat afgaan. Ons vries almal en probeer so saggies moontlik by die skuiling van ons “tenthut” uitkom. 

’n Paar minute later hardloop een van die luitenante by die kamp in en wissel vinnige woorde met die kampleier (die enigste vrou in die groep). Daar is ’n ander vrou in die kamp wat gebrekkige Engels praat en sy vertel later vir ons dat hulle ’n probleem gehad het met ’n “mal” rebel wat by die kamp wou inkom.

Die middag kom daar ’n rebel met ’n klein visvangervoëltjie aan ’n tou aan. Hy wys met groot smaak dat hy die voëltjie gaan eet en Renate bars in trane uit. Ons staar hom uitdrukkingloos aan, alle emosies ver weggesteek van die oë van hierdie aaklige mense.

Nog meer ontsteltenis later in die dag as die rebelle hul wagte ruil. Ons het nou al agtergekom wat hul idee is. Die rebelle wat ons oppas, word gedurig geruil – ons vermoed dit is om te keer dat ons goeie verhoudings met hulle bou. Alhoewel ons weet dat hulle dit doen, is dit nog steeds ontstellend elke keer as dit gebeur. Jy weet nie wie dit is wat inkom nie, wat hulle dink en gaan doen nie en jy moet weer van voor af deur die proses van geruswording werk.

Ek sit voor op die platform van die huis toe hulle instap. Hierdie groep is baie jonk, ek skat sommige van hulle is nie ouer as sestien nie. Een van hulle kom stap tot reg voor my en laat ’n wind los in my gesig. Die ander bars histeries uit van die lag. Ek byt op my tande en ignoreer hulle.

Later stap ’n rebel by die kamp in met ’n boek in sy hand. Hy gee dit vir Stèphane, die gyselaar wat die naaste aan hom is, en glimlag breed as Stèphane dit by hom vat. Stèphane lig die boek op en ons kyk verstom na wat op die omslag staan – Die Bybel!

PSALM 71:14, 15, 20
Ek, ek sal gedurig deur bly hoop, ek sal U altyd weer loof.
Sonder ophou sal ek van u verlossingswerk,
van u reddingsdade bly praat,
want hulle is meer as wat ek kan tel.
U het talle benoude ervaringe oor my gebring,
maar elke keer weer my lewe gered,
my elke keer weer weggeruk uit die magte van die dood.

PS: Ek deel in my getuienispraatjie die wonderwerkverhaal van die Bybel wat tot by ons uitgekom het. 





















Comments

Popular posts from this blog

Dag 119 - Die opdrag

Dag 28, 32 - Vlug!