DAG 49 - Afkoeltyd...



Dis ’n bitter slegte dag vir ons. Dinge het al gister begin verkeerd loop toe die rebelle wild om die kamp begin skiet het. Ons voel die spanning aan, en soos gewoonlik is ons die laaste om te weet wat aangaan. Vroegmôre word ons wakker gemaak met die opdrag om te pak en reg te wees om te beweeg.

Dit is nie goeie nuus nie. Dit beteken die weermag is naby en die onderhandelings is gestop. Nog groter die skok toe ons sien dat die groep Maleisiese gyselaars in ’n ander rigting ingeboender word. Ons kry nie eens kans om te vra wat aangaan of om hulle te groet nie. Nou is ons laaste kans van kommunikasie met die rebelle daarmee heen.

Robot kom by die kamp aan en beveel dat al die gyselaars behalwe ek en Callie op die trok gelaai moet word. Ons kyk met groot oë na mekaar. Is dit nou ons tyd? Gaan hulle van ons ’n voorbeeld maak omdat hulle weet ons is Christene? Alhoewel ek nie die dood vrees nie, is die gedagte dat ons tyd naby is nogal angswekkend. Ek gaan sit plat op die grond, te lam om iets te doen.

Uit die hoek van my oog sien ek die jong Duitser, Marc, nader stap. Nadat hy met Callie gepraat het, draai hy om, gaan tel sy sak met goed op en kom staan by ons.

“Ek gaan saam met hulle,” sê hy vir die rebelle terwyl hy na ons wys. Dit lyk nie of dit Robot pla nie. Met ’n groot glimlag wys hy ons moet hom volg voordat hy in die paadjie verdwyn. Voordat die digte oerwoud ons heeltemal omring, kyk ek vir oulaas om na die gesigte van die ander gyselaars. Hul
uitdrukkings wissel tussen hartseer, verwarring en verligting, en ons sê vir mekaar tot siens.

Ons stap vir amper twee ure – ek, Callie Marc, Robot en twee van sy handlangers. Met elke tree berei ek my voor op die onvermydelike – die dood. Elke keer as Robot begin stadiger loop, hou ek op asemhaal. Ek wil nie nou doodgaan nie!

Dan is die oomblik uiteindelik daar (of so het ek op daardie oomblik gedink!). Ons bevind ons in ’n oopte in die oerwoud. Robot wys vir ons dat ons alles moet neersit. Ek gaan sit sommer self ook, nie lus om hom in die gesig te kyk nie. Hy begin met sy makker praat en hulle lag as hy na ons toe stap. Dan is die pistool in sy hand. Die ander twee grinnik. Hy wink vir Marc.

“Kom hier!” Marc lyk verward, nie heeltemal seker wat om te verwag nie. Tot sy skok gee Robot vir hom die rewolwer. Marc kyk na hom met groot oë wat en vraag vra.
“Skiet.” Robot wys na die oerwoud. Hierna is alles ’n waas. Tot vandag toe kan ek nie onthou of Marc geskiet het nie. Ek kan nie onthou dat Robot ons beveel het om op te staan en hom weer te volg 

My volgende bewuswording is as ons skielik weer in ’n oop area instap en daar voor my sien ek die ander gyselaars wat besig is om van die groot trok af te klim!

Robot tik my op die skouer. “Jy gaan baba kry. Te gevaarlik om met die trok te ry. Skud te veel.” Ek het geen woorde nie. Al wat ek kan doen, is om na hom te staar. Kon hy dit nie voor die tyd vir ons gesê het toe ons nog by die ander kamp was nie? Ek was verniet so bevrees!

Daardie aand bars die eerste reën van die moeson-seisoen los. Die seile wat ons gespan het, help niks nie. Ons is binne minute papnat. Ons sit op ’n klein hopie soos nat hoenders op soek na mekaar se hitte. Nie een van ons slaap daardie nag nie. Ons dink oor wat die rebelle aan die ander gyslaars op die trok vertel het. Dat daar ’n afkoeltydperk voorgestel is deur die onderhandelaars. Die rebelle was baie ontsteld hieroor omdat hulle besef het dat die gevaar dan bestaan dat die weermag weer gaan aanval. Dit was die hoofrede waarom hulle ons moes skuif.

Al waaraan ek kan dink, is dat God ’n plan het. Dat al hierdie dinge gebeur as deel van Sy plan. Dat ons nie vandag doodgeskiet is nie, omdat dit nie deel was van Sy plan nie. En dat ek moet ophou om bekommerd te wees. Ek is lankal reeds vrygekoop. Ek behoort aan Hom ...


PSALM 49:6, 8, 9, 16
Waarom sou ek my in moeilike tye kwel
as ek bedreig word deur die onreg van bedrieërs ...
Een mens kan tog nie ’n ander loskoop van die dood
en aan God ’n losprys vir hom betaal nie?
Die prys vir ’n mens se lewe is te hoog.
Maar vir my sal God loskoop uit die mag van die dood;
ek sal aan Hom behoort.

Comments

Popular posts from this blog

Dag 119 - Die opdrag

Dag 28, 32 - Vlug!