Dag 43 - Die vol maan


























Die son begin vandag sy kop uitsteek na die baie reën. Ons het darem gisteraand beter geslaap. Vandat die groot afdak vir die gyselaars gebou is, hoef ek en Callie nie meer die 2x2-meter platform met sy seiltjie bo-oor met Marie en Aida te deel nie nie. Dit is dus nie meer nodig om in ’n klein bondeltjie te slaap nie.

Daar het gister ’n pakkie van die goewerneur van die eiland gekom, so vanaand kan ons darem sop vir aandete kry. Dit is ’n geweldige verbetering op die bord gebrande rys wat ons altyd moet deel. Ons eet almal saam op die “platformhuis”.

Kort voor lank kom die rebellegroep se geestelike leier, Walid, ons ete versteur. (Ons vermoed hy kom van een van die midde-oosterse lande.) Hy beveel ons om in die een hoek van die houtplatform te gaan sit omdat hy blykbaar ’n seremonie vir die rebelle beplan. Ek sê vir Callie dat ek onrustig voel oor die situasie en dat ons liewers moet padgee. Voordat ons kan reageer, haal Walid egter sy megafoon uit en begin hy hard bevele uitskree. Binne sekondes begin die rebelle nader hardloop. Ek en Callie slaag daarin om by die hut uit te sluip voordat iemand ons sien en ons dalk kan stop.

Ons is nou geweldig bekommerd. Nie een van die ander leiers is daar nie en Walid se stemtoon is opsweperig en baie aggressief. Ons verstaan nie wat hy sê nie, maar kan uitmaak dat hy die leiers en van die onderhandelaars se name noem. Hy praat ook van Sabah, waar ons gevang is. My eerste reaksie is dat hy ongelukkig is oor die stand van sake en nou die rebelle probeer opsweep. Ons
is vreesbevange en ek dink aan die ander gyselaars wat nou omring is deur die rebelle. My instink om te oorleef kry die oorhand en ek gryp ’n flits.

“Kom, Callie. Laat ons liewer in die bosse agter die kamp gaan wegkruip. As iets gebeur, kan ons ten minste hardloop.” Ons kruip agter ons eie hut uit, tussen die bosse deur en gaan sit in die skuinste, verskuil deur die ruie plantegroei. In die maanlig kan ons die pad wat afloop na die rivier sien. Tonele oor wat besig is om in die hut te gebeur speel deur my kop. In my geestesoog sien ek hoe hulle
die gyselaars onthoof.

My magteloosheid maak my lam en ek wens dat ons net almal in die niet kan verdwyn. Callie begin saggies bid. My sintuie is op volle aandag: My oë soek na enige beweging om my, my ore spitsorent vir elke geluid. Ek hoor nie wat Callie bid nie. Ek verwag die ergste.

Skielik skyn daar ’n helder lig deur die hoë boomtakke. Iemand met ’n flits! Hulle gaan ons nou sien! Dan besef ek wat dit is. Dis nie mensgemaakte lig wat ons so skielik omring nie – dis die maan. Ons merk vir die eerste keer op dat die maan vol is. My gedagtes gaan terug na die eerste aand op die boot. Die volmaan en die dolfynwolk voor dit, maar veral die besef dat alles okei gaan wees en die
groot vrede wat daarmee saam gekom het.

Ek wil sommer begin huil. Ek wonder hoekom ek so beangs raak, so kwaad raak, so magteloos voel. Ek weet mos God is in beheer. Hy het mos klaar vir ons ’n belofte gegee dat Hy ons beskerm. Ek laat sak my kop en so sit ons totdat dit uiteindelik stil raak.

Ons kruip later uit ons wegkruipplek en kry die ander waar hulle in ’n klein groepie bymekaar sit. Ek sien dat Marie gehuil het en besef hoe erg dit vir hulle moes wees. Eers dae later hoor ons dat dit ’n preek was vir die rebelle om hulle te motiveer om met die stryd aan te gaan.

PSALM 43:1, 5
Laat tog reg aan my reg geskied, o God,
behartig tog my saak teen ’n godlose bende,
red my van vals en misdadige mense.
Waarom is ek so in vertwyfeling en waarom kerm ek so?
Vertrou op God!

Comments

Popular posts from this blog

Dag 119 - Die opdrag

Dag 28, 32 - Vlug!