Dag 28, 32 - Vlug!


DAG 28 – VREES VIR NOG ’N AANVAL

PSALM 28:1-3
Ek roep na U, Here, my Rots,
moet tog nie doof wees vir my nie.
As U bly swyg, sal ek wees soos ‘n sterwende.
Hoor my smeekstem as ek na U roep om hulp,
as ek my hande in gebed uitsteek
na die allerheiligste deel van u tempel.
Moet my tog nie uitroei saam met die goddeloses,
die mense wat onreg doen nie.
Hulle praat vriendelik met hulle bure,
maar daar is kwaadwilligheid in hulle harte.

Ons word wakker van ’n geskarrel buite die hut. Die eerste ding wat ons sien, is dat die rebelle besig is om inderhaas op te pak. Is dit die weermag? Callie kom vertel dat hy ’n vloot aanvalsbote op die see sien. Renate begin onbedaard huil as sy die nuus hoor. Ons het ’n vrylating verwag – nie ’n aanval nie! Sonia gaan sit op ’n stoeptrap en begin huil. Terwyl die trane oor my wange begin loop, gryp ek ons enigste pen en skryf ’n desperate boodskap teen die muur: “Weermag, los ons uit en
onderhandel. Julle stel ons lewens in gevaar.”

Robot kom vertel vir ons dat ’n reusebom in ’n winkelsentrum in Manila ontplof het. Die regering sê dit was die Abu Sayyaf se werk. Dinge lyk nie goed vir hulle en vir ons nie.

Vir die res van die dag sit ons in vrees.

Niks gebeur nie. Ons kan nie slaap nie – te bang vir ’n aanval. *

*Die gyselaars vind later uit dat Aventejado, die hoofonderhandelaar, by die
onderhandelings aangekom het met ’n gewapende begeleiding. Die rebelle-leiers
het die ergste verwag en gevlug.


DAG 32 – VLUG

PSALM 32:2, 7
Dit gaan goed met die mens vir wie die Here die oortreding nie toereken nie
en in wie se gees daar geen valsheid is nie.
U is vir my ’n skuilplek, U beskerm my teen aanvalle ...
Dit word toenemend moeiliker om op te staan. Mujib kom by die kamp aan en
gee opdrag dat ons moet pak. Almal is onmiddellik paniekerig. Hy sê ons moet
kalm wees, iemand sal ons kom haal.

Callie tel ’n swaar ryssak op. Dit is alles wat ons het. Niemand wil die medisyne dra nie. Ek ruk my op en gryp die swaar kartondoos. Robot gryp dit by my en terwyl hy iets mompel oor my swangerskap, gee hy dit vir ’n ander rebel om te dra. Ek kan nie glo dat hulle na al die weke nog die babastorie glo nie!

Callie dra swaar teen die bult af. Na ’n uur se stap kom ons by twee trokke uit. Ons word soos sardientjies ingedruk. Ons sit vir ’n uur in die trok. Niks gebeur nie. Dan word ons aangesê om uit te klim. Later moet ons weer inklim.

Ek is oortuig hulle is besig om na ontsnappingsroetes te soek. Die twee trokke jaag verwoed op die nou grondpaadjies. Ek kyk na die trok agter my. Verskrikte gesigte van gyselaars verdwerg deur rebelle en gewere. As ons familie dit moet sien, sal hul sekerlik sterf!

Die rebelle stop. Ons hoor die word “ambush” en Callie begin bid. Rebelle spring af en hardloop vooruit. Minute later trek ons weer weg. By die volgende stop gee die remme van die agterste trok in en hulle jaag amper in ons trok vas!

Ons vind uit ons is in ’n klein dorpie met die naam Badang. Groepe mense kom uit hul hutte gehardloop en begin skree:
“Waar is Marie?”
“Waar is Sonia?”
“Waar is Monique?”

Iemand vertel dat die inwoners die hele storie op die nuus volg en dat hulle ons as sterre beskou! Baie patetiese, vuil, maer, honger sterre. Ons oomblik van glorie is van korte duur wanneer die trokke weer voortjaag. Na ’n lang, stamperige rit tot diep in die nag, stop ons uiteindelik en word ons in
’n klein hutjie wat hoog op pale staan, ingejaag.*

*Ná ons vrylating vertel die Suid-Afrikaanse taakspan dat die weermag tydens verskeie geleenthede ontsettingsaksies voorgestel het. Volgens hul skatting sou die helfte van die gyselaars omkom in so ’n ontsetting. Al die lande het dit afgekeur.


Comments

Popular posts from this blog

Dag 119 - Die opdrag