Dag 25, 26 en 27 - Oor Vrees, Hoop, Vreugde en Valsheid













DAG 25 – SEA VIEW LODGE
PSALM 25:2
... my God, op U vertrou ek.
Laat my vertroue tog nie tevergeefs wees nie,
laat my vyande nie juig oor wat met my gebeur nie.

Ons moet weer oppak en trek. Die opdrag om te pak is nie vol vrees nie, so ons weet dit is nie omdat die weermag naby is nie. Callie dink dat ons dalk vrygelaat gaan word. Ons wil bly word, maar weet dat die teleurstelling groot gaan wees as dit nie gebeur nie. Dis ’n moeilike tog teen die steiltes van die berg af en my bene bewe so na ’n halfuur se stap dat Callie my ryssak (wat nie meer rys nie maar ons bietjie oerwoudbesittings bevat het) by my moet vat. Gelukkig is dit nie meer ver nie en na nog 30 minute stop ons by ’n huis wat in ’n oopte staan. Die oerwoud is nie so dig nie en ons kan die see sien! Werner noem dadelik die kamp “Sea View Lodge”. Ek wonder hoe lank ons nog hier gaan wees?


DAG 26 – NUUS VAN DIE HUIS AF
PSALM 26:1-3
Laat reg aan my geskied, Here, want ek is onskuldig.
Ek het op die Here vertrou en nie getwyfel nie.
Toets my, Here, keur my, ondersoek my deur en deur.
Ek laat my deur U liefde lei en ek lewe deur u trou.

Daar is vandag baie beweging in die kamp. Eers kom dr. Amin saam met die Red Crescent (die Islamitiese weergawe van die Rooikruis) by ons aan. Sy bring vir ons elkeen ’n hamburger. (My gedurige spottery met MacDonalds-burgers het uiteindelik gewerk!) Die burgers is koud en nat, maar vir die eerste keer vandat ons in die oerwoud is, eet ons vleis! Sy gee ook vir ons twee briewe. Altwee is van Suid-Afrikaanse joernaliste wat iewers in die Filippyne is – Inge Kuhne en Rowan
Philp. Laasgenoemde praat oor ons familie wat hy besoek het en daar is ’n foto van my pa saam met my sussie se kinders. Dit is te veel vir my en ek bars in trane uit.  Hulle leier, "Commander Robot," kyk minagtend na my, want trane word beskou as ’n swakheid. Marie huil ook. Dit is al wat ons kan doen. Ek skryf in ons dagboek “Callie, I love you, nog steeds en vir ewig. Help my, asseblief! Ek kan nie wag vir ons nuwe lewe nie. Jou vrou.” Daardie aand roep Robot Callie na buite. Hy vertel vir hom van die onderhandelings wat op twee “levels” aan die gang is. Dit beteken vir ons niks. Dit is alles leë woorde. Ons rig ons oë op God – Hy is ons enigste uitkoms.


DAG 27 – VREUGDE EN VALSHEID
PSALM 27:1-3
Die Here is my lig en my redder,
vir wie sou ek bang wees?
Die Here is my toevlug,
vir wie sou ek vrees?
As misdadigers op my afstorm om my dood te maak,
my teëstanders en my vyande,
dan is dit juis húlle wat struikel en val.
Al sou ’n leër teen my stelling inneem,
sal ek nie bang word nie.
Selfs al sou die aanval op my begin,
sal ek nog steeds vertroue hê.

Callie hou heeldag aan dat ek moet skryf. Teen dié tyd probeer almal skryf, op elke stukkie papier en selfs blare wat hulle in die hande kan kry. Ek kan nie skryf nie. Dit voel asof ’n mens so vinnig as moontlik deur alles wil leef en dit wil klaarmaak. Die probleem is net dat die tyd so stadig verbygaan. Dit voel vir my asof mens van alle estetiese eienskappe gedreineer is – nou gaan dit net oor eet en oorleef. Gisteraand het ek weer in ’n donker gat van wanhoop verval. Dit was nadat Risto vir ons gesê het hulle verwag ’n militêre staatsgreep in die land. Dit sal ons einde beteken. Ek kan nie glo dat ’n mens so beproef kan word nie – dit isseker as gevolg van al die kere wat ek so “godslasterlik” was.

Angs oorval my en die vrees wil begin oorwin. ’n Donker gevoel van twyfel in my geloof, maar dan onthou ek God het vir ons die versekering gegee dat ons hier gaan uitkom. Wie is ek om aan Sy woord te twyfel?

’n Klomp joernaliste kom hier aan. Ook vir hulle word die situasie ondraaglik. Hulle kyk ons met jammerte aan. Hulle simpatie maak dit moeilik om hul werk te doen. Hulle weet hulle kan nie tyd mors nie, want die rebelle is so onvoorspelbaar.

Een van hulle het ’n satellietfoon. Hy bied aan dat ons dit gebruik. Daar is net een kans; ek bel my ouers se huis en bid dat hulle optel. Dit is vroegoggend in Pretoria en my pa antwoord die foon.
“Pa! Dit is ek!” skree ek, te bang dat hy my nie gaan hoor nie.
“Ek weet ...”Ek hoor hoe dik sy stem is van skok. Die lyn is so helder dat dit voel of hy net hier om die draai is. Die volgende oomblik praat my ma – ek vermoed my pa huil.
“Waarvandaan af bel jy?” vra sy verbaas. Ek praat te veel om te sê in te min tyd. Dis die eerste keer wat ons met mekaar praat en ek vertel wat ek dink hulle nodig het om te hoor.
“Ons is veilig. Ons word nie meer aangeval nie.” Dan is my tyd op – die ander wil ook bel voordat die battery pap is.

Die joernaliste word genooi om saam met ons die aand deur te bring. Teen skemer, terwyl ons in die kamer (ons tronksel) sit, hoor ons hoe iemand vreeslik in Arabies bid. Ons hoor later dat dit Robot is. In die helder lig van die videokamera het hy op sy knieë gegaan en vir die pers ’n uitstaande vertoning van totale toewyding aan sy god and geloof gegee. Ons is totaal verstom. Dit is die eerste keer wat ons hom sien bid. Ons is gewalg deur sy valsheid en die naïwiteit van die pers.

Comments

Popular posts from this blog

Dag 119 - Die opdrag

Dag 28, 32 - Vlug!