Dag 23 - die tydskrif


PSALM 23:1-6
Die Here is my herder, ek kom niks kort nie.
Hy laat my rus in groen weivelde. Hy bring my by waters waar daar vrede is.
Hy gee my nuwe krag. Hy lei my op die regte paaie tot die eer van sy Naam.
Selfs al gaan ek deur donker dieptes, sal ek nie bang wees nie, want U is by
my. In u hande is ek veilig.
U laat my by ‘n feesmaal aansit, terwyl my teëstanders moet toekyk. U
ontvang my soos ‘n eregas, ek word oorlaai met hartlikheid.
U goedheid en liefde sal my lewe lank by my bly en ek sal tuis wees in die
huis van die Here tot in lengte van dae.

Ek kyk verstom na die artikel voor my. Dit kan nie waar wees nie! Wat is die kanse dat hierdie storie by my uitkom? Ek onthou nog ’n paar dae gelede toe ’n rebel ingekom het met ’n brief van die goewerneur van die eiland. Hy wou weet wat ons nodig het. Die lys is lank: kos, water, klere ... Ek vra ’n helikopter. Dit word nie neergeskryf nie, maar ek dink almal voel so. My finale versoek is boeke. Ek moes net eenvoudig my aandag afkry van die duisende gedagtes wat my elke
dag mal gemaak het. Planne om te ontsnap, planne om te oorleef, analises oor
wat aangaan.

Toe stap daar vandag ’n rebel by die kamp in en vra vir die ander waar ek is. In sy hande het hy drie Reader’s Digest-tydskrifte. Ek wonder waar hy dit kry, want ek kan sommer dadelik sien dit is stokoud. Ek maak die een van 1982 oop. Die bladsye is al geel. Ek blaai stadig daardeur – te bang om dadelik die stories te verslind. Dan vang my oog ’n storie. Dit is die verhaal van Amerikaanse gyselaars wat in Theran aangehou is. Ek kan dit nie glo nie – hier is ek ’n gyselaar en nou
moet ek ’n storie lees oor ander gyselaars! Die gedagte maak my sommer moeg en ek blaai aan.
Dit is die volgende artikel wat my laat stom staan. 

Die titel is “Lessons from captivity”. Dit is geskryf na aanleiding van die vorige artikel en gebaseer op oorlewingsmetodes van soldate in die Viëtnam-oorlog! Dit is ’n artikel van net twee bladsye, maar vol ongelooflike waarhede. Wat is die kans dat jy ’n gyselaar is en dan kry jy van die honderde duisende tydskrifte wat al gedruk is, daardie een? Na my aanvanklike verstomming begin ek sommer lag. Callie, wat langs my onder die boom sit, wil dadelik weet wat aangaan.

“Ek sê nou vandag vir jou: God het ’n sin vir humor!” Ek lees daardie twee bladsye lange artikel seker tien keer aanmekaar deur. Ek besluit ek sal gehoorsaam wees en alles doen wat God hier vir my gesê het om te doen!



Comments

Popular posts from this blog

Dag 119 - Die opdrag

Dag 28, 32 - Vlug!