Dag 119 - Die opdrag

Eergister het ons iets op die radio gehoor wat ons almal baie opgewonde gemaak het. Die probleem is dat dit in hulle taal was, so ons het nie alles verstaan nie, maar ons het wel ’n paar woorde gehoor wat belowend geklink het.
“Sipadan-gyselaars. Kolonel Gadaffi. Manila. Tripoli,” alles in een sin. As Aida maar net nog by ons was! Sy kan hul taal verstaan, maar ons is eerder dankbaar dat sy al klaar vrygelaat is.

Dit word ’n oggend vol frustrasie, want ons vra vrae, maar niemand kan met ons praat en vertel wat aangaan nie.

Later kom Paul, een van die senior rebelle, by die kamp aan. Hy kan Engels
praat en Callie het hom letterlik in sy tent vasgekeer.

Ek kon nie hoor wat hullepraat nie, maar ek het Callie se gesig so van die verte af dopgehou. Eers blydskap, dan ’n groot vraagteken. Ons verwag net slegte nuus toe hy later kopskuddend terugloop na ons hut toe.
“Daar het ’n vliegtuig van Gadaffi in Manila aangekom vir ons vrylating. Hulle gaan ons Tripoli toe vat sodra ons vry is.” Callie se woorde het ’n kettingreaksie van vrae en opmerkings by die gyselaars tot gevolg gehad.
“Dit beteken ’n vrylating gaan gebeur!”
“Het hy gesê wanneer?”
“Hulle sal nie ’n vliegtuig stuur as hulle nie seker is ons kom uit nie!”
“Dit is omtrent tyd!” Dit het ’n rukkie gevat voordat die realiteit insink. As daar ’n vliegtuig is, beteken dit dat die onderhandelings op ’n einde moet wees. Hulle sal nie al die pad uit Libië ’n vliegtuig stuur om ons te kom haal as ons nie amper vry is nie! Vir die eerste keer het dinge regtig vir ons positief begin lyk.
“Hoekom moet ons Tripoli toe gaan?” het iemand gevra.
“Seker omdat dit Gadaffi se mense is wat ons gaan uitkry,” antwoord
iemand anders.
“Ons moet seker gaan dankie sê!” Die groep was skielik opgewonde.
“Ek gaan nie Tripoli toe nie!” het Callie skielik hard gesê. Nie een van ons het geglo wat ons hoor nie. “Ek gaan nie Tripoli toe nie. Gadaffi is ’n terroris. Ek het niks te soeke in Tripoli nie! Ek gaan huis toe!”

Hy het omgedraai en weggeloop, maar dit was nie die einde van die gesprek nie. Later het ek hom oor sy baie ongewone reaksie probeer pols. Sy antwoord was baie ferm.
“Ek weet wie my hier gaan uitkry en dit is verseker nie Gadaffi nie. Dit is God wat ons hier gaan uitkry. Dit is vir God wat ek sal dankie sê, nie vir Gadaffi nie!” Ek het geweet Callie is reg. In my hart het ek ook besef dat God ons die heeltyd hier beskerm het en dat net Hy ons hieruit kan red. Ek het aan Callie probeer verduidelik dat daar seker ’n rede moes wees waarom ons Tripoli toe
moet gaan.
“Wel, dit moet ’n vrek goeie rede wees ...”

Vandag vind ons toe die rede! Callie is besig met die lang Psalm 119. Hy maak nogal so ewe ’n grappie: “Ek hoop ek onthou alles wat God vandag vir my wil sê!” Hy het egter nie ver om te lees voordat God met hom praat nie. Inteendeel, hy het skaars begin toe hy skielik stop en my met sy woorde verstom.
“Ons moet Tripoli toe gaan!”
“Waarvan praat jy?” vra ek verbaas oor die skielike reaksie.
“God sê ons moet Tripoli toe gaan!” herhaal hy opgewonde.
“Ek het jou mos gesê,” beaam ek.
“Ja, maar Hy het vir my die rede gegee hoekom ons moet gaan. Kyk hier, vers 46 sê ons moet gaan getuig voor prinse en konings oor God se grootheid en ek sal nie skaam wees nie!” Ek gryp die King James-Bybel uit Callie se hande en lees self die vers. Dan verstaan ek ook wat ons moet gaan doen! Gadaffi wil die eer van ons vrylating vir hom vat en ons moet dit gaan regstel. Ons moet vir die
wêreld gaan vertel dat dit God was wat ons vrygemaak het!

PSALM 119:46
Selfs voor die hoogste gesag sal ek U ordeninge met vrymoedigheid aanhaal.

KJV : I will speak of thy testimonies also before kings, and will not be ashamed.

Comments

Popular posts from this blog

Dag 28, 32 - Vlug!